OUDTSHOORN NUUS - Om die enigste Suid-Afrikaner te wees wat saam met nege Amerikaners 'n boek skryf, is iets wat Marné Kleinhans nie in haar wildste drome sou voorstel nie.
"Ek sou my dit nooit kon indink nie. Dit voel nog bietjie onwerklik, maar dit is so 'n lekker, trotse gevoel om hiervan deel te wees," het die boervrou gesê wat net buite Oudtshoorn op 'n plaas saam met haar man en twee seuns woon.
Die boek, The True Meaning of Giving, word binnekort in Texas gepubliseer.
Haar storie het 'n paar jaar gelede begin toe sy met behulp van Brain Child Fund, 'n Amerikaanse nie-winsgewende organisasie wat ondersteuning aan ouers met gestremde kinders bied, 'n blog, Raising my autistic farmer, oor haar outistiese seun Nickholis (10), begin skryf het.
Haar blog bemoedig en inspireer ouers van kinders met spesiale behoeftes en is al vir twee oorsese toekennings benoem.
Marné het ook by 'n paar Facebook-groepe aangesluit waar sy haar skryfwerk deel.
"Eendag het 'n vrou uit Ohio, wat ook op een van die groepe is, vir my 'n boodskap gestuur en gevra of ek weet dat daar skrywers gesoek word om te help skryf aan die spesifieke boek. Ek het dit gesien, maar Engels is nie my eerste taal nie en ek het nie gedink ek sal dit kan doen nie. Sy het my egter aangemoedig, die vorms ingevul en in 'n kwessie van 'n paar uur is die kontrak geteken en was ek een van die skrywers! Dit was ongelooflik."
Die boek handel oor die ware betekenis van Kersfees.
"Dit gaan nie oor geskenke en Kersfeesbome en kos nie, maar oor geluk, samesyn en herinneringe."
Om 'n boek te bestel stuur 'n WhatsApp na 076 401 5011.
Marné wil egter nie als oor die boek verklap nie.
"Dit gaan op Amazon beskikbaar wees. Die e-boek is alreeds op Amazon Kindle beskikbaar, en die hardebandboek is amptelik vanaf 11 November beskikbaar. Ek het die voorreg om nou al boeke in te voer en neem reeds bestellings."
Sy sê die wins wat sy uit die boek maak sal gebruik word vir Nickholis se mediese onkostes.
"Ek kan nie voltyds werk nie omdat ek elke dag terapie met Nickholis moet doen. As ek nie 'n ma is vir my twee seuns of 'n vrou vir my man nie, werk ek aan insamelings vir Nickholis en studeer deeltyds.
"Verder help ek ook die Brain Child Fund om ander ouers met gestremde kinders regoor Afrika te help. Ek is spyt oor niks. Dit wat ek doen, doen ek nie net vir my gesin of my kind nie, maar ook vir ander ouers en kinders met spesiale behoeftes."
Om 'n boek te bestel stuur 'n WhatsApp na 076 401 5011.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'