CALITZDORP NUUS - Hy was nog nie heeltemal nugter toe hy in sy waarskuwingsverklaring asook met sy borgtogaansoek, 'n maand na sy arrestasie, erken het dat hy sy eenjarige kind en die kind se ma verskeie kere met 'n mes gesteek het nie.
So het Samuel Malgas van Royal Heights, Calitzdorp, die week in die Oudtshoorn-streekhof onder kruisverhoor getuig.
Malgas voer aan dat Lusinda Miggels en hul kind deur iemand anders beseer is of miskien hulself beseer het toe hulle teen 'n kombuiskas geval het.
Hy ontken dat hy erken het dat hy Lusinda drie keer in die rug en die kind twee keer in die voorkop gesteek het.
"Ek was nog onder die invloed van alkohol. Dit neem mos lank vir alkohol om uit jou liggaam te kom," het Malgas aan die staatsaanklaer, Brandon Smith, gesê.
Malgas se broer, Alfredo Malgas, het getuig dat hy die betrokke aand wakker geskrik het toe hy Lusinda hoor skree het.
Hy is na hul kamer en het gesien hoe Samuel na hulle steek terwyl Lusinda met die kind in haar arms staan.
Hy het bloed aan die kind se voorkop gesien asook aan Lusinda.
Die ondersoekbeampte, ao. Wanita Uys, het Samuel se waarskuwingsverklaring aan die hof voorgelees waarin hy erken dat hy Lusinda met sy mes, wat sy aan hom oorhandig het, agter die rug gesteek het.
Hulle het gestry en hy wou haar eers met 'n besemstok slaan. Hy het ook erken dat hy die kind raak gesteek het en glo baie sleg gevoel het.
Volgens Uys wou Lusinda nie 'n saak teen Samuel maak nie.
Onder kruisverhoor het Samuel getuig dat hy nie steekwonde aan die kind of Lusinda gesien het nie.
Daar was wel skaafwonde aan die kind se voorkop.
Volgens hom het hy Lusinda en die kind in die kombuis aangetref en was van mening dat iemand hulle aangerand het.
"Ek het nie aandag aan Lusinda gegee nie omdat ek net op my kind gefokus het en by die hospitaal wou kry."
Op 'n vraag van die staatsaanklaer, Brandon Smith, waarom hy dink die ondersoekbeampte sal skryf dat hy die messtekery erken het, het hy geantwoord dat enigiets moontlik is.
Smith het dit aan Malgas gestel dat hy die hof probeer mislei en vir sy skuldigbevinding op albei aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer, gevra.
Volgens sy regshulpprokureur, Wenzel Botha, versoek hy die hof om hom onskuldig te bevind omdat daar geen getuienis is dat hy vir Lusinda en die kind gesteek het nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het die saak vir uitspraak tot 20 April uitgestel.
Malgas bly in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Kein Karoo nuus'