Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Magdaleen (Maggie) Titus, een van Preston Titus se moordenaars, se aansoek om verlof tot appél is vandag in Kaapstad geweier.
Titus, Preston se vrou en voormalige ANC-raadslid, is op 3 Maart vanjaar, saam met haar medebeskuldigde, Justice Mooi, lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die moord op haar man in Desember 2017.
Regter Nolwasi Mabindla-Boqwana het hulle ook tot drie jaar gevonnis vir regsverydeling.
Die vonnisse word samelopend uitgedien.
Die ander twee beskuldigdes in die saak, Natasha Stuurman en Masithembe January, is onskuldig bevind. Magdaleen was die meesterbrein agter die huurmoord op haar man terwyl Mooi was die huurmoordenaar.
Tydens die uitspraak het die regter klem gelê op die wrede manier waarop Preston vermoor is. Sy kakebeen is gebreek nadat hy vermoedelik met 'n hamer geslaan is. Hy het verskeie sny- en steekwonde aan sy lyf gehad wat met 'n mes toegedien is, en is ook verskeie kere met die hamer geslaan. Hy is uiteindelik aan bloedverlies dood.
Titus wou teen die skuldigbevinding sowel as haar vonnis appelleer. Regter Robert Henney het egter vandag haar aansoek geweier.
Sover vasgestel kan word gaan Mooi nie 'n aansoek bring nie.
Preston Titus
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'