OUDTSHOORN NUUS - 'n Ma van ses kinders wat van poging tot moord skuldig bevind is, is Dinsdag in die Oudtshoorn-streekhof vier jaar gevangenisstraf opgelê.
Mona Smit (37), wie se ses kinders nie in haar sorg is nie, het haar voormalige kêrel met 'n gebreekte bottelkop in die nek en bors gesteek.
Sy het vir Clifford Maarman, voor 'n winkel op Unieplein met die gebreekte bottelkop gesteek terwyl hy saam met 'n groep mense gedans het.
Die staatsaanklaer Hyron Goulding, het vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis is vir die misdryf waaraan Smit skuldig bevind is.
Smit se regsverteenwoordiger, Eugene Roos, het gevra dat die hof in ag moet neem dat sy werkloos is en 20 jaar gelede laas 'n misdryf gepleeg het. Die klaer het ook heeltemal van sy beserings herstel.
Streeklanddros Retha Pretorius, het met vonnisoplegging gesê Smit is skuldig aan 'n misdryf wat algemeen in die hof se bedieningsgebied voorkom en is Maarman gelukkig dat hy nog leef.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'