Die Oudtshoorn Courant het Dinsdag die munisipaliteit sowel as die toerismekantoor laat weet dat die trein weer op pad is en gevra of daar na die besoekers en hul besittings se veiligheid omgesien kan word.
Tydens die trein se vorige besoek is van die toeriste beroof en eiendom is deur vensters uit die trein gesteel. Woensdagoggend het 'n groot groep wetstoepassers op fietse en te voet die lengte van die trein gepatrolleer om te verseker dat daar nie weer voorvalle voorkom nie. Verskeie polisievoertuie het ook deur die loop van die oggend by die vervalle stasie 'n draai gemaak.
Joan Shaw, hoofuitvoerende beampte van Oudtshoorn Toerisme, het bevestig dat sy ook Dinsdag in kontak met die toeroperateur verantwoordelik vir die toeriste se besoek aan Oudtshoorn, was.
Die trein wat deur twee diesel-lokomotiewe getrek word en 18 waens beslaan, het vanaf 08:00 tot 13:00 op Oudtshoornstasie deurgebring terwyl die besoekers na 'n plaaslike volstruisplaas en Fancourt vervoer is. Op die luukse trein word die passasiers deur 24 hoogs-opgeleide personeellede bederf.
Die besoek is deel van 'n nege-dag toer vanaf Pretoria na Malelane, Swaziland, Hluhluwe, Durban, Bloemfontein, Port Elizabeth, Addo Nasionale Park, Oudtshoorn, George en Kaapstad. Ander toere wat Rovos aanbied strek verder noord na bestemmings soos die Victoria Watervalle en Dar-es-Salaam.
Rovos-treine is die breinkind van Rohan Vos, wat dit reeds in 1989 begin het, en wat sy eie privaatstasie in Capital Park in Pretoria het. Van die waens dateer terug tot 1965, terwyl ander weer replikas van luukse modelle van 1925 met dik, duursame matte en smaak-volle meubels, is. Passasiers word in luukse dubbelkamers met en-suite badkamers gehuisves en sit etenstye in deftige eetsale vir smulmaaltye aan.
Passasiers het Woensdagoggend eers ontbyt op die trein genuttig voordat hulle op besigtigingstoere geneem is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'