TUINROETE DISTRIK-NUUS - Een van die DA se jong opkomende leiers in die Suid-Kaap, Jaco Londt (35), het homself verkiesbaar gestel vir die voorsitterskap van die party in die Wes-Kaap. Dit is 'n baie senior pos in die party en word as invloedryk beskou.
Op die oomblik is Anton Bredell die voorsitter en dit is nie bekend of hy weer verkiesbaar is nie.
Londt is tans die voorsitter van die DA se oosstreek en ook 'n parlementslid in die nasionale raad van provinsies.
Hy het voorheen in George gewoon en is ook die DA se kiesafdelingshoof vir Mosselbaai.
Londt het bevestig dat hy homself verkiesbaar gestel het. Die verkiesing sal op 28 November tydens die DA se Wes-Kaapse kongres plaasvind.
In die stadium lyk dit of dit 'n virtuele kongres gaan wees. Dit is vanjaar die sesde jaar dat Londt die voorsitter van die DA se oosstreek is. Hy het in 2005 aktief by die politiek betrokke geraak en in 2014 'n LP geword.
Oor sy voorsitterskap van die DA se oosstreek het hy gesê: "Daar is 'n tyd om te kom en 'n tyd om te gaan. Ek het my innings gehad. Onder moeilike omstandighede het ons baie sukses behaal. Ek het vertroue dat daar genoeg kwaliteit mense in die DA is om te bou op die fondasie en die party vorentoe toe te neem."
Volgens Londt het die DA deur moeilike tye gegaan. Daar is egter geen twyfel by hom dat die Wes-Kaap die anker in die DA is nie.
Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings en senior DA-lid, het intussen bevestig dat hy homself verkiesbaar gaan stel vir die voorsitterskap van die oosstreek wanneer Londt die pos ontruim. Sy verkiesingsveldtog het reeds begin.
Die streek vergader op 7 November om 'n nuwe voorsitter te kies. Daar is 14 munisipaliteite in die streek.
Simmers het reeds kontak gehad met DA-lede in al die munisipaliteite en die terugvoering wat hy ontvang het is positief.
Hy is al byna 20 jaar betrokke by die DA. Een van die redes waarom hy homself verkiesbaar stel is omdat hy glo daar is 'n behoefte vir waarde gedrewe leierskap wat gebou is op die beginsels van die party.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'