OUDTSHOORN NUUS - 'n Hartverskeurende toneel het Sondag 23 Julie in Oudtshoorn afgespeel nadat die liggaam van 'n man die oggend in die kanaal langs die Kanaal-woonbuurt in Bridgton, gevind is, en die oorledene se seun self in die vlak water ingeklim het om sy pa se lewelose liggaam uit te sleep.
Honderde inwoners van die omgewing het die oggend saamgedrom rondom die berugte kanaal en toegekyk hoe lede van die polisie, paramedici en forensiese deskundiges na die toneel en lyk omsien.
Oomblikke later het die oorledene, Willem Plaatjies, se seun die koue water ingestorm om sy pa se liggaam uit die water te haal. Hy het onmiddellik geskree en huilend inmekaargesak met inwoners rondom die toneel wat geskree het: "Dis sy pa daai!" Die man is deur polisiebeamptes van die toneel weggeneem.
Vroeër die dag het kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, gesê dat Plaatjies sy kop gestamp en in die kanaal beland het. "Die man se liggaam is deur 'n verbyganger raakgesien waarna die polisie ontbied is," het Van Wyk bygevoeg.
Hy het gesê dat 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen is om Plaatjies se dood te ondersoek.
Met verdere navrae aan die polisie het Suid-Kaapse woordvoerder, sers. Chris Spies, gesê dat die liggaam omstreeks 09:00 die oggend gevind is.
"Beskikbare inligting dui daarop dat die liggaam deur 'n verbyganger raakgesien is waarna die polisie ontbied is. Noodreddingspersoneel is na die toneel gestuur en die liggaam is later uitgehaal. Die man is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar," het Spies beaam.
Volgens Spies sal 'n nadoodse ondersoek om die oorsaak van die man se dood te bepaal hierdie week plaasvind.
Honderde inwoners van die omgewing het die oggend saamgedrom rondom die berugte kanaal en toegekyk hoe polisie-, paramedici- en forensiese beamptes na die toneel en lyk omsien.
Inwoners van Oudtshoorn het hul ontevredenheid en misnoeë op sosiale media, veral Facebook, te kenne gemaak na die insident en die polisie se amptelike terugvoer.
Die meerderheid van die gemeenskap het gesê hulle glo nie dat Plaatjies bloot net sy kop gestamp het nie, en dat die polisie se verduideliking nie sin maak nie.
"Hoe stamp mens jou kop op niks - daar is nie bome of pale in die omgewing nie; het hy eerste sy kop gestamp en toe in die kanaal beland of eers in die kanaal geval en toe sy kop gestamp?" was slegs van die vrae wat die gemeenskap gehad het. Baie glo dat Plaatjies se dood moontlik nog 'n moord kan wees.
Polisie, paramedici en forensiese dienste by die lyk in die kanaal. Foto's: Stefan Goosen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’