OUDTSHOORN NUUS - Lluwayden Jacobs (18), 'n voorslag trompetblaser van die Oudtshoorn Lutherse kerk jeugbrigade asook die kerk se senior blaasorkes is tans op besoek aan Duitsland waar hy verskeie gemeentes sal besoek en die jaarlikse 'Kirchentag', 'n baie groot kerk byeenkoms, sal bywoon.
Die besoek is volgens Pat Sambo, sinodale verteenwoordiger van die Oudtshoorn Lutherse kerk, ook deel van die kerk se internasionale vieringe van 500 jaar van hervorming.
"Lluwayden sal die Oudtshoorn-parogie, die Moria-kring, die Kaap Oranjebisdom en die Lutherse kerk in Suid-Afrika verteenwoordig," sê Sambo.
Hy is een van drie Suid-Afrikaners wat die eer te beurt geval het, en sal onder meer ook Berlyn, Greifswald, Löcknitz and Koserow en die Baltiese see besoek. Die Kirchentag sal in Greifswald plaasvind.
Volgens Sambo is die tema van vanjaar se byeenkoms, Now is the time of grace – in which society do we want to live.
Lluwayden sal by die Kirchentag aan 'n musiek werksessie deelneem en ook 'n getuienis lewer oor wat die tema beteken vir 'n jeugdige in Suid-Afrika.
Hy sal saam met jongmense van Tanzanië, Poland, Swede en Noord-Amerika optree en ook 'n musiekopvoering bywoon onder die tema, Martin Luther in Word and Music, voordat hy na Suid-Afrika terugkeer.
Volgens kapt. David Jullius, leier van die Oudts-hoorn Lutherse kerk jeugbrigade, is hy baie trots op die jong trompetblaser wat hom aanvanklik self geleer het voordat hy later onderrig van Klaus Claassen ontvang het.
"Lluwayden is 'n toegewyde lid van die brigade en 'n voorbeeld vir almal," sê Julius.
Hy is 'n gr. 12-leerder aan Hoërskool Môrester en het voor sy vertrek verlede week gesê hy kan nie glo wat hom te beurt geval het nie.
Hy was in gr. 2 toe hy by die brigade aangesluit het en eers die tromme bespeel voordat hy na die trompet oorgeslaan het.
Vandag kan hy ook die trombone (skuiftrompet) en tuba bespeel.
ARTIKEL EN FOTO: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'