OUDTSHOORN NUUS - Vir die afgelope 14 jaar bedien sy die inwoners van Eljada Nasorgsentrum in Oudtshoorn met respek en liefde as bestuurder van die instansie, maar op die ouderdom van 71 het dit tyd geraak vir Wilma Lemmer om af te tree.
Lemmer werk al op een of ander wyse as maatskaplike werker vir die afgelope vyf dekades. Sy woon al 27 jaar lank in Oudtshoorn.
Eljada Nasorgsentrum, onder die vaandel van die Badisa-organisasie, sien om na volwassenes met intellektuele gestremdhede. Lemmer vertel haar ervaring daar was soms uitdagend, maar meer as dit, 'n totale plesier en leerskool.
"Dit was 'n lang tyd, dit was wonderlik! Dit was vir my regtig 'n voorreg om so lank hier te kon wees, 'n voorreg wat min mense het."
In 14 jaar het Lemmer baie herinneringe opgebou, van die inwoners tot by die personeel. Daar is volgens haar vandag steeds inwoners wat reeds daar woonagtig was toe sy as bestuurder ingetree het. "Ons kliënte (inwoners) het my lewe verryk."
Voor haar aanstelling as bestuurder van Eljada Nasorgsentrum het Lemmer vir die ACVV gewerk in die Klein-Karoostreek. Sy was die streekkonsultant, die maatskaplike werkers se toesighouer, en dit alles vanaf onder meer George tot in Laingsburg. Al die tehuise vir bejaardes, dienssentrums en kleuterskole in hierdie gemeenskappe het onder haar geval.
Om as bestuurder by Eljada Nasorg-sentrum in te tree was wel 'n hele ander ervaring vir haar om met persone met intellektuele gestremdhede te werk, maar die skuif was alles die moeite werd.
"Die lekker daarvan was om te sien hoe die terrein en gebou verander het oor daardie tyd met behulp van ons donateurs en fondsinsamelings. Ons het baie opknappings en onderhoudswerk gedoen, en selfs 'n muur van herinnering opgerig."
Selfs die ontwikkelingsprogramme wat vir inwoners aangebied is was vir haar 'n hoogtepunt.
As sy terugdink aan die belangrikste verskil wat sy by Eljada Nasorgsentrum gebring het, is dit beslis die verskil wat sy aan inwoners en dagsorgkliënte se lewens gemaak het. Daar is 98 permanente inwoners en 13 dagsorgkliënte wat slegs daagliks na die sentrum toe gaan.
Die hartseerste deel van haar tyd daar was wanneer inwoners oorlede is.
"Ek gaan verlang na die inwoners, personeel, vrywilligers en die beheerraad wanneer ek weggaan. Daar was so baie mooi oomblikke oor die jare - al ons funksies, die konserte wat ons altyd gehou het, maar nie meer aanbied nie, en elke aktiwiteit wat die personeel aanbied, soos byvoorbeeld ons swemgalas."
Die rede vir haar aftrede is sodat "jonger mense, nuwe bloed" met nuwe idees kan oorneem. Gerda Swart van Oudtshoorn sal aan die begin van Januarie oorneem met Lemmer wat haar sal touwys maak vir die eerste maand.
Met haar aftrede, sê Lemmer, gaan sy nou "alles doen waarvoor ek nog nooit tyd gehad het nie," skerts sy.
Sy sien uit daarna om in Oudtshoorn aan te bly, tuin te maak, te lees en naaldwerk te doen. Haar man is wel in 2005 oorlede, maar sy hoop haar seun sal nou meer vir haar kan kom kuier.
"Ek sal mense graag nooi om te kom kuier en ons inwoners te kom ontmoet en meer betrokke te raak by die sentrum."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’