KLEIN KAROO NUUS - Skoolkinders in Uniondale en Louterwater het verlede Woensdag breed geglimlag toe hulle skoolskoene ontvang het. Van die kinders kom gewoonlik kaalvoet skool toe.
Die skoene is aan leerlinge van Dirk Boshoff Primêr in Uniondale en die Hoërskool Uniondale en Louterwater Primêr in die Oos-Kaap oorhandig as deel van Mandeladag-vieringe.
Dit was op inisiatief van die AHi Wes-Kaap, die Klein Karoo Sakekamer en die kerkgroepe, die United Congregational Church (UCCSA) van Uniondale en die Congregational-kerk van Willowmore.
Altesaam 100 paar skoene is oorhandig. Dit was simbolies van wyle pres. Nelson Mandela se 100ste verjaarsdag wat verlede Woensdag gevier is. Pennesakkies met skryfbehoeftes is ook aan leerlinge in Uniondale oorhandig.
Van die leerlinge in Uniondale wat Woensdag op Mandeladag nuwe skoolskoene ontvang het. Foto: Verskaf
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, het gesê "Kinders moet elke dag drome droom en nooit moed verloor nie. Maak net seker dat dit wat jy droom, jy ook doen.
Daar waar jy kom, moet jy 'n verskil maak. Neem wyle pres. Mandela as jou rolmodel aan."
Hy het gevra dat mense mekaar se hande vat. "Suid-Afrika kan net gebou word as mense mekaar se hande vat."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'