Die jaarlikse Spelling-Bee kompetisie wat deur die Oudtshoorn Munisipaliteit aangebied is het plaasgevind op Woensdag 12 Oktober (primêre skole) en Donderdag 13 Oktober (sekondêre skole).
Alle skole in die Oudtshoorn omgewing is genooi om deel te wees van die kompetisie waarvoor elke skool een finalis per graad (Gr. 5 - Gr. 11) kon inskryf. Deelnemers moes lyste woorde in Afrikaans en Engels leer en is ook tydens die kompetisie gevra om onvoorbereide woorde te spel.
Laerskole gretige deelnemers
Altesame 39 laerskoolleerders van 13 skole het Woensdagaand meegeding. Die beoordeelaars het by tye hulle hande vol gehad met lede van die gehoor wat ontevrede was met beslissings maar het hulle uitstekend van hulle taak gekwyt en die volgende wenners aangewys:
Gr. 5 wenner: Tamlyn Absalom van Bergsig Primêr.
Gr. 6 wenner: Dannoline Maree van Saturnus Primêr
Gr. 7 wenner: Colichia September van De Rust Primêr
Algehele wenner: Colichia September
Strawwe kompetisie vir Hoërskole
In die hoërskool-afdeling was minder inskrywings, 26 leerders van sewe skole, maar deelnemers in al vier grade het mekaar opdraande gegee voordat die koningin van die spellers gekroon kon word.
Beoordeelaars moes hulle koppe dikwels bymekaar sit wanneer deelnemers kop aan kop was en addisionele woorde gevra moes word voordat iemand uitgeskakel is.
Die finale stryd tussen Elneto Stuurman (Gr. 11) en Willechia Reed (Gr.10) was veral spannend.
Na dosyne woorde in Afrikaans en Engels het Willechia die stryd gewen.
Die wenners in die hoërskoolafdeling is soos volg:
Gr. 8: Monique Oktober, Coleridge Sekondêr
Gr. 9: Antonio Claassen, Dysselsdorp Sekondêr.
Gr. 10: Willechia Reed, Bridgton Sekondêr
Gr. 11; Elneto Stuurman, Aurial Kollege.
Algehele wenner: Willechia Reed.
Die wenners van die hoërskool-afdeling. Van links is: Monique Oktober (Gr. 8 Coleridge Sekondêr), Antonio Claassen (Gr. 9 Dysselsdorp Sekondêr), Willechia Reed (Algehele wenner, Gr. 10 Bridgton Sekondêr) en Elneto Stuurman (Gr. 11 Aurial Kollege). Foto: Hannes Visser.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS