OUDTSHOORN NUUS - Leerders van Hoërskool Môrester is vanmiddag onder polisiebewaking huis toe weens onmin tussen die leerders wat van gister af by die skool heers.
Volgens een van die ouers met wie die Oudtshoorn Courant gepraat het was daar bykans 20 leerders vandag nie skool toe omdat hulle te bang is vir ander leerders by die skool.
Volgens die ouer was daar Sondag 'n groep kinders wat 'n man wou beroof en het 'n ander groep kinders ingespring om die man te help.
"Die kinders wat wou help woon almal in een buurt en word nou almal by die skool geteiken. Of hulle nou deel was van Sondag se gebeure of nie."
Een van die seuns is vandag deur sy ma by die skool gehou as gevolg van dreigende boodskappe wat hy deur 'n ander leerder ontvang het. 'n Ander leerder is gister met messe by die skool gejaag.
Drie meisies is vandag in aparte voorvalle by die skool aangerand terwyl ouers met die skoolhoof gesels het oor gister se aanrandings by die skool.
Volgens die ouers is hulle raadop omdat die hoof glo die leerders wat seergekry het en aangerand word huis toe stuur.
"Die kinders wat ons kinders seermaak bly by die skool. Dit is asof die hoof hulle beskerm."
Die Oudtshoorn Courant het 'n navraag aan die polisie en die Wes-Kaapse onderwysdepartement gestuur en wag tans op antwoorde.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Tuinroete nuus'