OUDTSHOORN NUUS - Die WKOD ondersoek 'n voorval waar 'n laerskoolleerder van Oudtshoorn voor ander leerders tien houe met 'n stok toegedien is omdat hy na bewering aartappelskyfies en sjokolade uit 'n klasmaat se rugsak sonder toestemming gevat het.
Die betrokke laerskool en onderwyser se name is bekend aan die Oudtshoorn Courant, maar kan nie in die stadium bekend gemaak word nie omdat die insident tans intern ondersoek word.
Volgens die gr.5-leerder se ma, het sy nefies opgemerk dat haar seun se boude pers geslaan is toe hy die betrokke middag geslaap het. Sy vertel dat sy die Woensdag skool toe gegaan het om die hoof oor die voorval te gaan spreek.
Die hoof het die onderwyser ingeroep en hy het gedurende dié gesprek glo erken dat hy eers later vasgestel het dat dit nie haar kind was wat die sjokolade en skyfies gevat het nie.
"Alhoewel die onderwyser my om verskoning gevra het, is ek steeds baie ontevrede omdat my kind in die eerste plek valslik voor sy klasmaats beskuldig is, en tweedens omdat hy 10 houe op sy sitvlak moes verduur in 'n era waar lyfstraf verbied word." Op hierdie stadium oorweeg sy nie enige kriminele klagtes teen die betrokke onderwyser nie.
Die gebruik van lyfstraf word reeds sedert 1996 deur die Suid-Afrikaanse Skolewet verbied.
Die hoof het by navrae aan die Oudtshoorn Courant bevestig dat die skool bewus is van die voorval, maar dat hy op hierdie stadium nie kommentaar kan lewer nie omdat die saak tans intern ondersoek word. Hy het ook genoem dat die prosedures aan die ouer verduidelik is.
Navrae is ook na die Wes-Kaapse departement van onderwys gestuur wat aangedui het dat die departement lyfstraf ten sterkste veroordeel. Die voorval is ook aangemeld by maatskaplike dienste en arbeidsverhoudinge soos die WKOD se protokol vereis.
Volgens die departement is hulle terdeë bewus daarvan dat dissipline 'n groot uitdaging in baie skole is en dat onderwysers landwyd onder groot druk verkeer om deurentyd orde in sy/haar klas te handhaaf. Die departement moedig egter skole aan om gebruik te maak van die positiewe gedrag- en klaskamerbestuursprogramme wat deur hul distrik se kantore aangebied word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'