OUDTSHOORN NUUS - Langenhoven Gimnasium se topleerder, Tanya Smit, spog met 'n algehele 94,86% slaagpersentasie op haar matrieksertifikaat en het 80% vir AP Maths behaal.
Hierdie slimkop, wat vanjaar BRek aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer, sê dat sy alle eer aan God vir hierdie uitmuntende prestasie gee.
Smith, wat sedert gr. 8 'n leerder by Gimmies was, is oorspronklik van Mosselbaai, albei haar ouers is rekeningkundiges - deels wat haar geïnspireer het om uiteindelik BRek te studeer.
Maar jy besef gou dat haar bewondering vir haar rekeningkunde-onderwyser, haar uiteindelike oortuiging was.
Dit is ook volgens haar waar haar ongelooflike 96% vir rekeningkunde vandaan kom, "juffrou eet, droom, slaap en leef rekeningkunde, sy het so baie vir ons gedoen".
Sy het haar hele skoolloopbaan hard gewerk, gehoop om die vrugte te pluk en ook met teleurstellings vrede gemaak, maar was dankbaar toe sy tydens die prysuitdeling verlede jaar as die duxleerder aangewys is. Haar suksesresep skryf sy toe aan drie goed, doen jou huiswerk - al kyk die onderwyser nie of jy dit gedoen het nie, luister in die klas - gebruik al jou af periodes en hersien jou werk aan die einde van die dag.
Haar raad is dat jy altyd jou beste moet beste gee, en dat as dit nie is wat jy graag wou bereik nie, jy tevrede moet wees daarmee
"Alles is in die Here se hande, ek wil uit dankbaarheid vir die Here, met my talente woeker."
Smith en haar tweelingsussie ry komende Sondag na Stellenbosch waar hulle 'n eerstejaarskamp gaan bywoon. Sy sal dan op 1 Februarie, formeel by die universtiteitsprogram inval.
Hierdie is nie net 'n skrander-leerder nie, nee, sy is ook fluks en het tydens ons onderhoud gou 'n baksel koekies uit die oond gaan haal. "Dis sommer net om almal om my te bederf," sê sy.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Karoo nuus'