OUDTSHOORN NUUS - Ricardo Timmie van Joey Potgieter se plaas Welbedacht is Vrydagaand bekroon as Agri Klein Karoo se landbouwerker van die jaar. Timmie beklee 'n pos as junior bestuurder. Die beste plaaswerkers van die Klein-Karoo is in verskeie kategorieë vereer.
Al die werkers wat vir die jaarlikse Wes-Kaapse plaaswerkerkompetisie ingeskryf het, het Vrydagaand die glansgeleentheid by Surval Olyf Boetiekhotel bygewoon waar die wenners aangekondig is.
Die kandidate is deur 'n paneel onder leiding van Willem Burger van die Oudtshoorn-navor-singsplaas gekeur. "Ons het by elkeen van julle landbouwerkers iets geleer," het Burger gesê.
"Jul passie, die wedersydse vertroue tussen die werkers en bestuur, en veral die manier wat julle as 'n span saamwerk, was inspirerend."
Salomé April, 2016 se landbouwerker van die jaar, het in 'n inspirerende boodskap medewer-kers aangemoedig om aan te hou om hul beste te lewer. "Ek was so trots om die toekenning te ontvang - dit het vlerke in my lewe gebring."
Sageas McKenna, wat in 2011 aangewys is as die landbouwerker van die jaar, het homself uitstekend as programdirekteur gekwyt.
Danie Niemand, van die departement van landbou, het Arnold Minnie van Shoprite
Checkers, borg van die Wes-Kaapse Prestige-landboutoekennings, bedank vir die maatskappy se volgehoue betrokkenheid.
Freda Schoeman van Werk-op-Werf-hand-werkfabriek buite De Rust was die gasspreker wat die gehoor van sowat 200 mense oor leierskap en verantwoordelikheid toegespreek het.
"Die boerdery is nie die werkgewer se besigheid nie, dis julle besigheid waarvoor julle werk sodat julle kan vorentoe gaan," het Schoeman gesê.
Kategoriewenners
Brendon Booysen van Kamanassie/Opsa Boerdery: Administratiewe Personeel, asook die landbouwerker met die beste potensiaal.
Algemene werker: Jacobus Adoons (Welbeplan)
Trekkerdrywer: Percy Solomons (Steyldrift)
Besproeiingspesialis: John Smit (Doorn-kraal)
Tegniese Operateur: Klaas Goliath (Welbeplan/Greylands)
Diereproduksie: Isak Witbooi (Steyldrift)
Administratiewe Personeel: Brendon Booysen (Kamanassie/Opsa)
Voorman: Vernon van Beulen (Kamanassie /Saag Jonger Groep)
Junior Bestuur: Ricardo Timmie (Welbedacht)
Middel Bestuur: Joey Kammies (Kamanassie/ Saag Jonker Groep)
Landbouverwerking: Johannes Solomons (Klipheuwel)
Die Saag Jonker Groep is aangewys as die beste presterende plaas. Saag Jonker, wat die toekenning in ontvangs geneem het, het gesê sy vrou, Hazel, is die stukrag agter die sosiale opheffing van die werkers op die Groep se plase.
Die kategoriewenners wat Vrydag aangewys is, sal op 5 Oktober by die Wes-Kaapse departement van landbou se Kromme Rhee-opleidingsinstituut op Stellenbosch beoordeel word; die wenner van die Wes-Kaapse kompetisie sal tydens 'n galadinee op 4 November by Nederburg-wynlandgoed in die Paarl bekend gemaak word.
Die wenner sal pryse ter waarde van sowat R100 000 ontvang, wat 'n oorsese studiereis insluit. Wenners dien ook op die Prestige Plaaswerkerforum, wat die "oë en ore van die plaaswerkers op die grond is", het Niemand gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'