"Vir ons gaan dit oor die voortbou van die skool se diep gewortelde waardes en tradisies wat deur die jare tred gehou het met die groei en ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse samelewing.
Dit gaan vir ons oor die kinders, nie oor hoe mooi die gebou is nie. Elke kind moet ontwikkel tot die beste van sy/haar vermoë en dit is wat ons hier doen," vertel Ronelle Huysamen, wat sedert 2014 die skoolhoof is.
Dit was 'n geskiedkundige dag toe Huysamen as hoof aangestel is, aangesien sy die eerste vroulike hoof in geskiedenis van die skool se bestaan is. In die kort tydjie wat sy as skoolhoof dien, het sy baie veranderinge aan die skool aangebring. Hieronder tel 'n eco-klasstelsel waar sy 'n vierkant wat in onbruik was in 'n miniatuur tuintjie omskep het sodat die leerders op 'n praktiese wyse kan leer.
"Hier kan hulle leer hoe voel die water wat uit 'n besproeiingstelsel kom, hulle sien hoe dit werk en verstaan dit dan makliker. Hulle kan die plante sien en daaraan vat. Dit is vir hulle heerlik om in die "buite-lug" klas te hê," vertel sy.
Huysamen lê ook klem op die skool se visie: 'n unieke omgewing vir uitnemende opvoeding.
"Ek glo daarin dat ons skool uniek is, dat ons onderwysers op 'n unieke manier met baie aandag met die kind werk sodat sy potensiaal ten volle kan ontwikkel. Opvoeding van 'n kind sowel as die ontwikkeling van 'n kind begin op 'n baie vroeë ouderdom en ons wil die individuele kind help om dit reg te doen. Ons wil waardes bou wat vir nog 'n 100 jaar gebruik kan word," vertel sy.
“Daarom hou ons steeds ons skoolleuse “Ons Bou” voor oë in alles wat ons aanpak.”
Die skool is in 1914 met sandstene gebou en die eerste skoolhoof was mnr. E Gericke. Hy was 27 jaar lank skoolhoof en in sy termyn is die skool met twee klaskamers vergroot.
Hy is opgevolg deur mnr. Nigrini, waarna mnr. J Jonker in 1947 as skoolhoof begin het. In 'n tydperk van 18 jaar het die skool se naam van Noord-End na Laerskool Oudtshoorn-Noord verander, 'n klavier is aangekoop, elektriese ligte aangelê en die skool het skooldrag gekry. Die skool se teeroppervlak word voltooi en die strate en sypaadjies rondom die skool word geteer.
Vanaf 1965 tot 1974 het die leerdertal van 134 leerders na 276 vermeerder. Dit is ook in die tydperk wat veranderinge aan die skoolgebou begin het en nog klaskamers, asook 'n personeelkamer, gebou is. 'n Sportterrein asook 'n speelpark is in die tydperk vir die leerders ontwikkel. In 1970 begin die nuwe gebou aanvang neem en is in 1975 voltooi.
Ander skoolhoofde wat ook 'n reusebydrae tot die ontwikkeling van Oudtshoorn-Noord gehad het, was mnr. CFJ Spies (1966-1984), mnr. RE Johnson (1985-1991), mnr. GJ Koen (1992-1995) en mnr. Meyers (1996-2013).
Klik hier vir 'n vorige artikel.

So het Laerskool Oudtshoorn-Noord se eerste skoolgebou gelyk. Foto: verskaf

Me. Ronelle Huysamen is sedert die begin van die jaar skoolhoof by Laerskool Oudtshoorn-Noord. Foto: Liezl van Niekerk

Laerskool Oudtshoorn-Noord vier hul 100ste verjaardag die naweek.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'