OUDTSHOORN NUUS - Laerskool Laurus het op 10 Junie hul vyfde verjaarsdag gevier.
Na die skool se amptelike ingebruikneming van die nuwe naam, Laerskool Laurus in 2016, is vyf verrykende jare van getrouheid, liefde, harde werk en speel gevier.
Die skoolhoof, Ronel Huysamen, het die dag met 'n buitelugopening begin waartydens vorige, sowel as die huidige hoofleiers van die skool, leerders en gaste toegespreek het.
Om die dag te vier het leerders verjaarsdaghoedjies gedra wat uit herwinbare materiaal gemaak is.
As deel van die vieringe is 'n kultuuraand op 14 Junie gehou.
Die doel van hierdie geleentheid was om die groei van kultuuraktiwiteite by Laurus ten toon te stel. Die leerders het hul talente uitgebeeld op verskeie gebiede onder andere met gedramatiseerde poësie, dans, sang en musiekinstrumente.
Die musikant Willo Maya, begelei Monique Harding, Welmé-Ray Prins en Moné Joubert met 'n sangitem.
Die spreekkoor is, van links: Ziva Janse van Rensburg, Chané Fourie, Christené Swanepoel, Reuven Kruger en Mika van der Merwe.
Lede van die groter gemeenskap wat gedeel het in die sukses van die aand was Hannes Visser wat 'n paar gedigte voorgelees het, Isabel Rossouw wat 'n kunsuitstalling met die kunswerke van leerders van Laurus gehou het en Willo Maya wat gesorg het vir uitstekende musiek. Kunswerke en handgemaakte artikels wat deur die leerders gemaak is, was ook beskikbaar om te koop.
Oor die afgelope vyf jaar het Laurus bekend geword as 'n laerskool wat innoverend is en die grense van tradisionele onderwys en opvoeding verbreed.
Gaste tydens die kultuuraand van 14 Junie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'