LADISMITH NUUS - Onder die tema 'Vroue verenig en neem Suid-Afrika vorentoe' het inwoners van Ladismith verlede week aan 'n staptog teen misdaad deelgeneem.
Volgens ao. Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith-polisie, het die stappers die staptog by die polisiestasie begin.
"Hulle het gestap na al die plekke waar vroue in die verlede al vermoor en verkrag is. Die staptog het in Sakkiesbaai geëindig waar 'n negejarige meisie in Junie vanjaar verkrag is."
Cederas sê die plakkate wat die stappers gedra het, het boodskappe opgehad wat mans herinner dat vroue nie seksslawe is nie en dat hulle nie meer slagoffers van geweld wil wees nie.
"Inwoners het ook gevra dat die plaaslike regering die beboste gebiede moet skoonmaak en donker gebiede moet belig. Die stasiebevelvoerder, lt.kol. Jakobus Marthinus, het aan die einde van die optog die inwoners gevra om met die polisie saam te werk sodat misdaad hok geslaan kan word.
"Hy het ook die gemeenskap, wat reeds 'n groot bydrae tot misdaadvoorkoming lewer, bedank."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'