LADISMITH NUUS - Wes-Kaapse departement van gesondheid in Ladismith het onlangs begin om ondersteuning aan swanger vroue deur voorgeboorteklasse by Ladismith-kliniek aan te bied.
Die klasse word deur die fisioterapeut, gemeenskapsgesondheidswerker, asook die gemeenskapsgebaseerde dienskoördineerder aangebied.
Die doel van die voorgeboorteklasse is om swanger vroue te ondersteun en ’n gesonde swangerskap te verseker.
Tydens die klasse word die liggaamlike en emosionele verandering tydens die stadiums van swangerskap verduidelik en word daar ook eenvoudige oefeninge vir elke trimester gedemonstreer.
Oefening tydens swangerskap word aangemoedig, omdat dit help om rugpyn te verlig, en ’n beter spiertonus en meer energie te verseker.
Oefening kan ook help met geestesgesondheid tydens die swangerskap.
Die klasse sal elke maand ’n ander onderwerp behandel, soos die belangrikheid van voorgeboorte kliniekbesoeke, onderwerpe in die boekie vir swanger vroue, gesonde eetgewoontes, belangrike items wat saamgeneem moet word vir die geboorte, en nog vele meer.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'