OUDTSHOORN NUUS - 'n Laat Kersfeespartytjie vir kinders van die “Lane” het Sondag in 19de Laan, Bridgton, vir groot vreugde gesorg danksy ‘n weduwee en pensioenaris van die straat.
Die 59-jarige Carolina Arendse het ‘n groot aantal kinders getrakteer met ‘n partytjie wat sy eintlik vir Kersfees beplan het, maar as gevolg van omstandighede moes sy dit uitstel.
“Ek wou dit gedurende die feesseisoen doen, maar alles het nie so mooi uitgewerk nie. Ek het egter nie moed opgegee nie en danksy die ondersteuning van verskeie persone en instansies kon ek dit Sondag doen en sien hoe dankbaar die kinders was.”
Volgens Arendse het die Siyakhutanda Outreach-program in 2016 ontstaan. Die doel van die program is om uit te reik na die kinders van die “Lane”. Sy is sedert 2020, na die afsterwe van haar man, diep betrokke.
Sy het haar dank uitgespreek teenoor veral Wilck Spar, Icosa, Penny Pretorius, Denise en Berenice van George, asook apostel Granville Baadjies, vir die gebruik van die kerk en almal wat bygedra het tot die sukses van die geleentheid.
“Mense moet meer betrokke raak in hul gemeenskappe. Die Here gebruik ‘n mens soos Hy wil en sien alles raak,” het Arendse Sondag gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’