KLEIN-KAROO NUUS - Die Klein-Karoo is sinoniem met volstruise en die Kango-grotte en hierdie twee trekpleisters is waarskynlik op elke besoeker se lys.
Maar as jy die dag lus is om die Klein-Karoo se inwoners te ontmoet is dit so maklik soos in jou motor klim en die bekende sirkelroete van ongeveer 200 km aan te pak.
Dié roete neem jou deur De Rust, Meiringspoort en Klaarstroom tot in Prins Albert en terug oor die asembenemende Swartbergpas.
In De Rust se hoofstraat is talle klein winkeltjies en restaurante waar heerlike Karoo-ontbyte en ander geregte bedien word.
Meiringspoort se 25 bruggies neem jou op die pad wat die Grootrivier oor miljoene jare uitgekerf het. Die rotsformasies en die Meiringspoort-waterval is enige fotograaf se droom. Die stilhouplek by die waterval is slegs een van vyf in die poort wat pynlik netjies en skoon gehou word.
Net na die poort lê Klaarstroom weggesteek met ‘n pragtige ou hotel waar etes ook by die restaurant bedien word.
Neem die pad na Prins Albert oor die Kredouwpas met ‘n pragtige uitsig van die vallei.
Prins Albert is ‘n belewenis van pragtige argitektuur, eetplekke en interessante winkels en die ideale plek om middagete te geniet. Besoek ook die Fransie Pienaarmuseum wat ‘n paar jaar gelede as die beste museum in die Wes-Kaap aangewys is.
Na ‘n welkome uitspantyd in Prins Albert wag die Swartbergpas met sy kronkels en asemrowende tonele. Die pas is geskik vir gewone voertuie, maar dit is nie ‘n pad vir haastige mense nie. Die ongeskrewe reël vir aankomende verkeer is dat die voertuig wat bo is plek maak of wag vir die een wat van onder af kom.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'