Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die bekende ArtKaroo kunsgalery bied vir die volgende tien dae hulle laaste uitstalling aan.
Die uitstalling Krans & Kloof het gisteraand geopen met werke van bekende en plaaslike kunstenaars.
Tydens die opening het galery-eienaar, dr. Janet Dixon, gesê hierdie uitstalling voltooi ‘n siklus van tien jaar.
Na afloop van die huidige uitstalling sal ArtKaroo as ‘n internet galery voortgaan om kuns nasionaal en internasionaal te bemerk.
Uitstallings sal steeds met spesiale geleenthede aangebied word.
Die opening van die uitstalling is vooraf gegaan deur ‘n hartroerende uitvoering van Pie Jesu wat deur die bekende sangeres Petronel Baardt gelewer is.
Hannes Visser het ook ‘n gedig voorgelees wat hy vir die geleentheid geskryf het. Die gedig sluit aan by die tema van die uitstalling en beeld die ‘skepping’ van Meiringspoort uit.
Meiringspoort
die groot karoo tussen hier en die kamdeboo
waar haasbekwiele woer-woer in die wind
om water uit die suinige grond te wring
was nie altyd so
die oudstes vertel, ‘n reusehand het op ‘n dag
oor die karoo gevee en krans en kloof
bymekaargemaak, suidwaarts gehark,
op ‘n hoop gegooi, weggestap en gelag
‘n kunstenaar het daar verbygekom,
opgeklouter tot die hoogste punt en die hoop bekyk
toe het sy haar palet voorberei, kwaste en beitels
uitgehaal en aan die werk gespring
versigtig het sy die rotse opgelig en laag vir laag
netjies en presies oormekaar gevou en
krulkranse weerskante van ‘n kloof gebou
en toe haar skildery begin
rotse in roes en oker met spatsels van rooi
bosse en bome in weerbarstige groen en
water wat uitbundig oor kranse stort
en blink oor gladde klippe stroom
so is die poort geskep
die poort
na die klein karoo
Die uitstalling Krans & Kloof kan daagliks tussen 10:00 en 17:00 in die Prince Vincentgebou besigtig word.
ARTIKEL & GEDIG: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'