OUDTSHOORN NUUS - Met die kwik wat weer vandag, 12 Februarie, bo 40 grade styg word troeteldiereienaars daaraan herinner om seker te maak dat hul troeteldiere genoeg koelte en genoeg water het.
Plaaslike veearts, dr. Glen Carlisle, by Oudtshoorn-dierekliniek, het wenke gedeel om diere koel en veilig in die hitte te hou. Volgens hom is dit van kardinale belang dat diere toegang tot koelte en genoeg water het.
"Moenie jou hond aan 'n tou in die son vasmaak nie. Die hond moet kan beweeg na areas op die erf waar dit koeler is. Die vog rondom die brein raak letterlik warm en dit is waarom dit so gevaarlik is om honde in die son te laat staan. Indien die hond te lank in die son was, en jy kom agter dat die hond weens die hitte nie lekker is nie, begin om die lyf en kop nat te maak. Daar moet ook toegang tot genoeg koue water wees. Om ysblokkies of 'n bottel gevriesde water in die waterbak te sit help baie."
Carlisle sê verder dat handdoeke natgemaak kan word en bietjie in die vrieskas gebêre kan word. "Jy kan dit vir die hond neersit indien hulle baie warm kry."
Eienaars moet ook nie met hul honde in die hitte gaan stap nie, omdat die kussings onder die pote of selfs die vel kan brand. Dieselfde geld ook vir ander troeteldiere.
Simptome van hitte-uitputting by honde:
Honde wat aan hitte-uitputting ly, kan 'n verhoogde asemhalingstempo, droë of taai tandvleis, abnormale tandvleiskleur, kneusings in die tandvleis hê, kan lusteloos of gedisoriënteerd voorkom en kan aanvalle kry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’