OUDTSHOORN NUUS - Twee bekende kunsgalerye wat reeds sedert die eerste KKNK jaarliks aan die fees deelneem oorweeg dit ernstig om aanstaande jaar nie weer te kom nie. "Ons moet realisties wees en besef die KKNK raak vir ons 'n reuseverlies," het Floris Kotze, eienaar van Kotze Kunsgalery, Woensdag gesê.
Volgens hom kos dit hulle ongeveer R80 000 om by die fees uit te stal en vanjaar het hulle nie naastenby hulle kostes gedek nie. Chris Crouse, eienaar van die bekende Crouse kunsgalery en -handelaars beaam dit. Volgens hom kom hy reeds meer as 20 jaar na die fees toe. "Dit kos ons tussen R85 000 en R100 000 om hierdie uitgebreide uitstalling van meer as 30 kunstenaars se werke, uit te stal. Ek vlieg ook kunstenaars in om hier by die fees te skilder."
Hy sê dat vanjaar se fees 'n groot verlies was en dat hy waarskynlik nie volgende jaar weer sal kom nie.
"Ons hou ongeveer 50 uitstallings by feeste en geleenthede landwyd en ons is bewus van die ekonomiese omstandighede, maar vanjaar se uitstalling hier was werklik ons grootste verlies tot dusver."
Volgens Kotze en Crouse het die verskuiwing van die feesterrein beslis 'n groot invloed op uitstallers in Baron van Reedestraat.
"Dit is duidelik dat die kunsvoete baie afgeneem het, en dit is veral opvallend hoe stil die area hier voor die galerye saans geword het. Ek onthou hoe ons drie jaar gelede sommige aande tot tienuur oop was omdat daar nog mense in 'n feesstemming was."
Crouse sê hy dink dat die feesdatums ook 'n rol gespeel het. "As 'n fees in die middel van 'n week eindig, eindig hy eintlik al die vorige Sondag. Hier het van Maandag af niks aangegaan nie." Volgens hom maak dit meer sin om die fees van naweek tot naweek te laat duur.
'n Ander interessante waarneming wat die twee handelaars sowel as 'n galery-eienaar van Oudtshoorn gemaak het, is dat daar 'n sigbare afname in mense in die ouderdomsgroep 30 tot 40 was. Kotze noem ook dat kaartjieverkope nie 'n aanwysing is van hoeveel mense die fees bywoon nie.
"As kaartjieverkope toeneem beteken dit nie noodwendig meer mense. Dit kan ook beteken dat minder mense meer kaartjies koop."
Floris Kotze (links), Annette Roberts en die kunstenaar Kobus Kotze. Foto's: Hannes Visser
In gesprekke met mense blyk dit dat Kotze dalk 'n punt beet het. Die Oudtshoorn Courant het met vier verskillende groepe gepraat oor die aantal kaartjies wat hulle gekoop het.
Die eerste groep van vyf het altesaam 126 vertonings bygewoon, 'n groep van drie het 39 kaartjies vir vertonings gekoop, 'n egpaar van Kaapstad het 18 kaartjies gekoop en 'n groep van vier vriende en vriendinne het gesê hulle het altesaam 68 vertonings bygewoon. Dit beteken dus dat die 251 kaartjies slegs 14 feesgangers verteenwoordig het.
Kotze sê hulle het nog nie finaal besluit oor hulle uitstalling van volgende jaar nie. "Dit sal afhang van die land se ekonomie, die feesdatums en hoe die feesterrein volgende jaar gaan lyk. As dit alles soos vanjaar bly, sal ons waarskynlik nie weer kom nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'