OUDTSHOORN NUUS - Skilder is sy passie en hy wil dit graag met die wêreld deel.
So vertel Lindley Theyse, 'n kunstenaar van Oudtshoorn en inwoner van die GG-kamp.
Die Oudtshoorn Courant het vroeër vanjaar oor hom berig terwyl hy die muur van Kuiertuin tydens die kunstefees beskilder het. Intussen is hy deur 'n hotel in Mosselbaai gekontak en hulle het hom 'n groot uitdaging gegee.
"Die mense het vir my gesê hulle het 'n stuk leer wat hulle vir iets wil gebruik, maar hulle is nie seker vir wat nie. Ek het toe gesê hulle moet dit bring sodat ek kan kyk wat ek daarmee kan maak en het toe besluit om dit vir hulle te verf. Ek het die leer teen my heining opgehang, omdat daar nie plek in my huis is nie, en het dit geskilder. Die mense was nogal verras deur die kunswerk wat ek vir hulle gegee het. Dit was my eerste keer wat ek op leer gewerk het," het hy trots vertel.
Theyse sê sy ander passie is om mense in sy omgewing op te hef.
"Ek woon al sedert die GG-kamp se eerste hokke opgerig is hier. Ek en my vroutjie was van die eerste inwoners hier. Ek sal nie hier trek voor ek nie my mense gehelp het om hulle omstandighede te verbeter nie."
Volgens hom werk hy graag met die kinders in die kamp.
"Baie van hulle se ouers is nie altyd beskikbaar om hulle te help nie en soms is die ouers net totaal afwesig. Hier is so baie kinders met kinders en soveel kinders wat nie skoolgaan nie. Ek probeer maar op my manier om die kinders by te staan en hulle te motiveer om skool toe te gaan. Hier kom op 'n daaglikse basis kinders by my aan wat my wil help skilder of soms net staan en kyk wat ek doen."
Theyse sê hy sal graag 'n amptelike projek wil begin waar hy kinders deur middel van kuns help om van die strate af te kom en iets met hul lewe te begin doen.
"Die werkloosheid is baie hoog hier by ons en van ons kinders besef nie eens watter talente binne hulle skuil nie. As mens die kinders help om diep genoeg binne hulself te delf kan mens hulle help om hul passie te ontdek en op so 'n manier iets van hul lewe te maak."
Hy sê egter dat hulp van buite om so 'n projek op die been te bring baie skaars is.
"As ek 'n container gehad het was dit al makliker, maar waarheen moet ek die kinders neem? Die ander probleem is die materiale om met so 'n projek te begin."
Theyse sê ten spyte van die uitdagings wat hom in die gesig staar gaan hy nie ophou droom nie.
"Ek weet ek kan hierdie kinders help en tot ek die projek op 'n regte manier kan begin, sal ek aanhou doen wat ek nou doen."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'