PRINS ALBERT NUUS - Ná 43 jaar se verblyf in Europa is dit tyd om stil te word en na binne te keer. So sê die skilder Philip Willem Badenhorst van Prins Albert wie se uitstalling Karelsfontein eerskomende Saterdag in Die Breytenbach-sentrum op Wellington open.
Die titel verwys na die werke van die skrywer Karel Schoeman, vir wie Badenhorst 'n groot bewondering het.
Cas Wepener, skrywer van Die reis gaan inwaarts – die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman, neem die opening waar.
Dit was in 2017, tydens 'n sabbatsjaar in Prins Albert, dat Badenhorst hom toegelê het op al Schoeman se werke en hy geïnspireer is om dié skryfwerk visueel vas te vang.
"Schoeman se innerlike wysheid, die stiltes in sy werke en sy karakters se selfondersoek het my getref. Ek wou nooit die tekste letterlik uitbeeld nie, wel die sielkundige atmosfeer daarin. Ek was 'n student in die sewentigerjare toe ek die eerste keer Schoeman begin lees het."
Van die titels van die skilderye in die uitstalling is dié van plaasname in die Schoeman-romans, veral dié wat op "fontein" eindig. "Plase word altyd naby 'n natuurlike fontein of waterbron gevestig. Ek gebruik water graag as element om die krag van lewe en van hernuwing uit te beeld."
Volgens Badenhorst vind die Karoo as landskap altyd weerklank in sy werke. Sedert middel-2019, ná sy aftrede, woon hy en sy vrou, Marijke Coornaert, permanent op Prins Albert. "Ek is op 'n plaas in die Colesberg-distrik gebore, was in die Vrystaat op skool en het daarna beeldende kuns by die Michaelis-kunsskool aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer."
Daarna het hy met 'n kulturele beurs 'n meestersgraad by die Koninklijke Kunstakademie in Antwerpen verwerf. Hier het hy Marijke ontmoet en die volgende 42 jaar daar gewoon. Hulle het nog 'n seun, Willem. Badenhorst was lektor in skilderkuns en tekenwerk by verskeie kunsakademies in Antwerpen.
Maar nou het hy "huis toe" gekom, Karoo toe, en werk die afgelope byna agttien maande daagliks in sy ateljee. Talle nuwe werke het in die inperkingstyd ontstaan. "Ná Europa met sy ooraanbod van kultuur is dit tyd om na binne te keer. Met elke werk probeer ek myself herontleed, uitdaag en verras."
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'