Gallery
KLEIN KAROO NUUS - 'n Unieke kunsateljee is Saterdag 5 Desember, net buite Merweville op 'n plaas gebore. Die Kuikenhuis-kunsateljee op die plaas Jakkalsfontein, is 'n direkte uitvloeisel van die afgelope maande se Covid-19-inperking wat die Snyman-gesin se kreatiwiteit laat blom het.
So vertel Lenor Snyman, eggenote van die plaaseienaar, Kobus Snyman, wat voorheen hoof van die Hoërskool Zwartberg op Prins Albert was.
Hul dogter, Francis, ’n student aan die Michaelis-kunsskool van die Universiteit Kaapstad, moes in Maart huis toe kom toe een van haar lektore met Covid-19 gediagnoseer is en alle studente verplig was om die kampus te verlaat. Hul seun, Jacobus, ’n fotograaf, het ook huis toe gekom.
"Hy het padgegee uit Kaapstad en ons vyf Snymans, wat ons ander seun, Abel, insluit, het laer getrek op Jakkalsfontein."
In ’n dorre Karoo met sy uitdagings het die Kuikenhuis-idee ontstaan toe Francis op ’n dag met gipsafgietsels van Boeta Jacobus se voete ’n klomp keramiekblompotte gemaak het. "Eers is die waenhuis as ateljee ingeruim, want my werksopdragte vanaf die universiteit het ingestroom," vertel Francis.
Fotogalery: Kuikenhuis-kunsateljee op die plaas Jakkalsfontein
"Skeppendheid baat nogal by ’n plaasatmosfeer. Die hele gesin het later help optel aan ystervarkpenne, geroeste blikke en draad en die karkasse van droogtediere."
"Kobus het die hele gesin leer sweis, en toe vestig ons ook ’n ysterblomtuin op ’n koppie naby die plaasingang. Die blomme maak geluide in die wind, en ons moet die dele gereeld gaan vasdraai en instandhoudingswerk doen, net soos in enige ander blomtuin," vertel Lenor.
Die Kuikenhuis
Kobus het ook die volstruiskuikengebou ontruim om plek te maak vir Francis se kunsprojekte en dit is hoe Die Kuikenhuis gebore is.
"Die ateljee het Saterdagmiddag geopen om almal in die omgewing, of verbyryers op die N1 wat ’n lafenis soek, te wys hóé kreatief jy kan wees as jou gemaksone drasties verander, te danke aan die Covid-19-grendeltyd," sê Lenore.
Volgens haar is sy ook deur die kinders aangesteek en het self begin skilder. "Ons gaan nou elke lockdown-kunswerk op Jakkalsfontein uitstal vir avontuurlustige reisigers wat wil sien wat op ’n Karooplaas gebeur as jy gedwing word om positief te bly.
"Hier is skoon lug en jy kan kom swem en fietsry. Ons wil graag vir die wêreld wys hoe ons ’n afgesonderde, droogtegeteisterde spasie omskep het in ’n besige Karoo-kolletjie."
Vir navrae kontak Lenor Snyman by 079 597 8934.
Die Snymans se draadblomme op die plaas.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Klein Karoo nuus'