Gallery Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Rotariërs het die week die skoenbokse wat hulle vir hul Krismisbok-projek ingesamel het, by verskeie kleuterskole uitgedeel.
Volgens Suné Rupping, president van die Oudtshoorn Rotariërs, het hulle 870 skoenbokse ontvang.
"Ons het met die geld wat ons ontvang het asook ons eie fondse 450 bokse met speelgoed gepak en die res was reeds opgemaak deur skenkers."
Die Rotariërs het by ongeveer 20 kleuterskole skoenbokse afgelewer.
"Dit was 'n ongelooflike suksesvolle projek, veral met die samewerking en bydraes van die gemeenskap en skole.
"Ons sien uit daarna om volgende jaar hierdie projek weer te doen en wil graag hande vat met ander diensorganisasies om volgende jaar te groei en nóg meer kinderharte aan te raak."
"Daar is baie harde werk en toewyding in hierdie projek ingesit, maar dit was elke sekonde die moeite werd om te sien hoe 'n kindergesiggie ophelder.
"Dit is lekker om te weet dat jy 'n verskil in 'n kind se lewe gemaak het. Wie sou nou kon dink dat 'n tandeborsel 'n kind so opgewonde kan maak?"
Suné Rupping, president van Oudtshoorn Rotariërs, saam met van die kleuters van Ikaya Labatwana Pre-School.
Van links is die Rotariërs Leon Coetzee, Lionel Tait, Helena Wilken, Lezelma Pretorius, Suné Rupping en Dalia Wilck, saam met die kleuters van Katryntjie-kleuterskool.
Lees 'n verwante artikel: Rotariërs oorhandig krismisbokse
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'