Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Emosionele toneel het Woensdagmiddag by die woning van Preston Titus afgespeel toe vriende en familie 'n kranslegging by die huis waarin hy vermoor is, gehou het.
Die kranslegging was om sy verjaarsdag te vier. Hy sou Dinsdag 48 jaar oud gewees het.
Vriende van Titus, sowel as sy ma, Murial en sy suster, Lucinda Wildschut het die geleentheid bygewoon.
Natasha Stuurman, wat saam met Titus se vrou vir die moord aangekla word, se ma het ook die kranslegging bygewoon.
Een van Titus se vriende, James Dido, het die geleentheid geopen.
"Preston was vir ons soos familie. Hy was ons buurman en sy kinders was gereeld by ons huis gewees.
"Hy was 'n absolute gesinsman en het gestreef daarna om alles wat hy doen vir sy gesin te doen.
"Hy was altyd daar vir sy vriende en almal wat hier is sal weet watter passievolle mens hy was."
Kyk 'n video hieronder:
Titus se ma het gesê die tyding van haar seun se dood was 'n groot skok vir die hele familie.
"Ek het nie gehuil nie. Ek het net daar gesit. Preston was die jongste van vyf kinders.
"Nou is hy en sy oudste nie meer met ons nie.
"Preston het my op 'n stadium gebel en gesê hy wil skei, maar het daarteen besluit vir sy kinders se onthalwe.
"Ek het vir hom gesê hy moet probeer vasbyt, want die kinders kan nie sonder 'n pa grootword nie. Nou moet hulle in elk geval."
Murial het gesê dit is vir haar 'n riem onder die hart om te sien hoe baie haar seun vir die gemeenskap beteken het.
Natasha Stuurman se ma, Georgina, het ook die kranslegging bygewoon.
"Nie net in Worcester waar hy grootgeword het nie, maar ook in Oudtshoorn. Ons word steeds in die strate gestop deur mense wat oor hom wil praat.
"Ek is bly om te weet dat my seun in sy 47 jaar op aarde so 'n groot verskil in ander mense se lewens gemaak het."
Vriende en familie het by Preston Titus se huis bymekaar gekom om sy verjaarsdag te vier. Foto's: Liezl van Niekerk
Na die kranslegging het die groep mense 'n kerkdiens, ook in Titus se eer, bygewoon.
Lees 'n vorige artikel: Preston Titus se verjaardag gevier
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'