OUDTSHOORN NUUS - Altesaam 38 werknemers van die Oudtshoorn Inn hotel het vanoggend kospakkies en maskers van die liefdadigheidsorganisasie, Gift of the Givers, ontvang.
Volgens Janine Barnard, werknemer van diè hotel, het sy na die organisasie uitgereik vir hulp omdat sy bekommerd was oor die welstand van die werkers.
"Sommige van die werkers wag steeds vir hul Ters-gelde wat verlede jaar al moes uitbetaal. Dis regtig 'n hartseerverhaal omdat sommige van die werkers die broodwinners in hul huisgesinne is. Op die oomblik werk meeste van die werkers slegs op 'n bel-basis wanneer daar die dag gaste by die hotel is. Dis regtig 'n understatement om te sê dat ons swaar trek, veral omdat ons gewoonlik Desembermaande vol geboek is. Die meerderheid van die werkers wat vandag by die werk is, het ingekom om slegs die kospakkie te ontvang omdat hier nie werk vir hulle is nie."
Ali Sablay van Gift of the Givers, het op sy beurt gesê dat die organisasie dankbaar is om die werkers op 'n beskeie manier te kon help.
"Ons is hier om mense te bemagtig so ver as wat ons kan, en daarom het ons besluit dat die werkers van die Oudtshoorn Inn volgende maand weer kospakkies van ons sal ontvang."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'