OUDTSHOORN NUUS - Asla, die maatskappy wat die behuisingsprojek in Rose Valley behartig, het 'n skenking van R500 000 aan die woonbuurt se biblioteekprojek gemaak.
'n Simboliese tjek is op 16 Augustus deur Pierre Blauw van Asla, aan Colan Sylvester, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, oorhandig.
“Die biblioteekprojek verloop redelik goed en die tender gaan binnekort geplaas word. Vanaf Mei 2019 tot nou is die planne voltooi en ons kan net ons opregte dankbaarheid teenoor Asla uitspreek vir hulle bydrae."
Sylvester het gesê daar word voorsien dat die nuut aangestelde kontrakteur teen November vanjaar op die perseel sal begin. Daar word verwag dat die projek teen Junie 2020 voltooi sal wees.
Die Oudtshoorn Courant het op 22 Desember 2017 berig dat die Wes-Kaapse biblioteekdienste R8,5 miljoen vir die projek aan die munisipaliteit beskikbaar gestel het. Die beplanningproses sou verlede jaar tussen Januarie en Julie 'n aanvang geneem het.
'n Grafiese voorstelling van die Rose Valley-biblioteek.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'