OUDTSHOORN NUUS - Die eerste sooi vir die oprigting van 'n nuwe openbare biblioteek in Rose Valley is Maandagoggend deur die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, op 'n perseel aan die bopunt van Avonstraat gespit.
Die Wes-Kaapse regering het 'n bedrag van R8,5 miljoen vir die projek bewillig waarvan die eerste R2 miljoen Maandagoggend aan die onderburgemeester, Noluthando Mwati, oorhandig is.
"Biblioteke vorm 'n belangrike deel van die departement en die sooispit dui die begin aan van die bou van 'n langverwagte biblioteek vir die inwoners van Rose Valley en die groter Oudtshoorn," het Marais gesê.
Volgens Marais is daar tans 370 biblioteeksentrums geaffilieer tot die provinsiale biblioteekdienste en groei die getal steeds.
"Ek het die mees gesofistikeerde drome en verwagtinge vir die biblioteek en hoop dat die gemeenskap my sentimente deel. Ek glo dit gaan 'n vergadersentrum word waar maatskaplike insluiting voorop gestel gaan word. Onthou, biblioteke stoor die energie wat die verbeelding laat vlamvat. Hulle maak vir ons vensters oop na die wêreld en inspireer ons om te verken, te presteer en by te dra tot die verbetering van ons lewensgehalte. Biblioteke verander lewens."
Sy het inwoners aangemoedig om deel te neem aan 'n projek van die departement waarin mense se stories opgeneem en bewaar sal word vir hul nageslagte.
"Ek sien daarna uit om binne 'n kort tyd die opening van die Rose Valley biblioteek by te woon."
Die onderburgemeester het die dag as 'n heuglike een beskryf en die hoop uitgespreek dat die inwoners van Rose Valley eienaarskap van die biblioteek sal neem en dat dit deur veral die kinders benut sal word om hul kennis te verbreed.
Die bou van die biblioteek sal, volgens Mwati, ook werksgeleenthede skep en vir meer mense kos op die tafel sit.
"Ons kan nie die uitdaging van werkloosheid in ons dorp uit die oog verloor nie," het sy gesê.
Die wyksraadslid vir Wyk 6, Jerome Lambaatjeen, het namens die munisipaliteit die Wes-Kaapse regering vir die befondsing van die biblioteek bedank en verskoning gemaak vir die afwesigheid van die burgemeester, Colan Sylvester, wat op 'n werksbesoek in Kaapstad was.
Thomas Matthee, direkteur gemeenskaps-dienste van die munisipaliteit, het die belangrikheid van publieke deelname prosesse in aanloop tot nuwe projekte beklemtoon en die gemeenskap van Rose Valley vir hul bydrae bedank.
Volgens hom is die nuwe biblioteek die derde in Oudtshoorn wat min ander dorpe beskore is.
Lees'n vorige artikel: Minister spit sooi vir biblioteek
Tydens die oorhandiging van die eerste R2 miljoen vir die bou van die Rose Valley-biblioteek is van links: Jerome Lambaatjeen (wyksraadslid vir wyk 6), onderburgemeester Noluthando Mwati, minister Anroux Marais en Tertius Simmers, Suid Kaapse LP. Foto's Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'