OUDTSHOORN NUUS – Lede van die Oudtshoorn-reWOLusie, 'n vlagskipprojek van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, het verlede Saterdag bymekaargekom om die komberse wat hulle gehekel en gebrei het aan die 67 Blankets for Mandela Day-inisiatief te oorhandig.
Hierdié projek is 'n inisiatief deur Carolyne Steyn en deelnemers van oor Suid-Afrika kon registreer om deel van hierdié projek te wees.
"Die wol word deur Absa Suid-Afrika geskenk en Oudtshoorn se inwoners kon by die KKNK-kantoor wol kom afhaal om deel van hierdié inisiatief te wees," sê Lizané Basson, algemene bestuurder van die KKNK.
Daleen Witbooi, inligtingskoördineerder van die KKNK, vertel baie trots dat daar presies 67 komberse ingesamel is.
"Ek was so opgewonde om te sien dat ons hierdié mylpaal behaal het. Dit is 'n goeie gevoel, dankie aan almal wat saam gebrei en gehekel het."
Dié komberse wat nou op pad is na Johannesburg vir die 67 Blankets for Mandela Day-inisiatief, sal weer na Oudtshoorn teruggestuur word om hier tussen behoeftiges uitgedeel te word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'