OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep inwoners van Toekomsrus het besluit om vanjaar Kersfees ekstra spesiaal te maak vir Oudtshoorniete.
Volgens Percy de Villiers, 'n lid van die groep gaan hulle 'n Kersfees-fees vir inwoners in Toekomsrus aanbied.
"In vandag se era het party mense vergeet waaroor Kersfees regtig gaan. Ons beskou deesdae Kersfees as net nóg n dag van lekker eet en kuier terwyl vele dit beskou as net nog 'n vakansiedag.
"Ons wil graag die mense weer bymekaar bring en 'n gevoel van samesein tussen die mense bring en dit is deel van waarom ons die Die Bleddie Vêr Oukersfees-fees gaan hou," het hy verduidelik.
Die fees word op 24 Desember om 14:00 by die halfmaan tussen Panorama- en Romeosingel in Toekomsrus aangebied.
Dit beloof om 'n dag vol pret en plesier vir die hele gesin te wees.
"Die volwassenes is welkom om 'n vleisie en worsie te bring vir 'n bring-en-braai en vir die kinders sal daar 'n klein geskenk- en lekkergoedpakkie wees."
Daar gaan ook hope vermaak soos domino's en atletiek wees en die bekende kulkunstenaar en buikspreker, Jannie de Bruyn gaan ook deel van die fees wees. Kersvader sal ook deel van die feesvieringe wees.
Plaaslike kunstenaars waar onder Rubber Johnny, Percy de Villiers, Maurice Wagenaar, Eldene Jones, Darryl Rondganger, Lizell van Hansen, Vinzelle Damons en Anuschka Henning sal vir heerlike musiek sorg.
Die dag word heeltemal gratis aangebied.
Indien iemand wil help met borge of meer inligting verlang kan hulle Margo Saptouw by 083 453 4840 skakel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Tuinroete nuus'