OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep gemeentelede van die Baptiste kerk in Knysna het onlangs bakkievragte vol skenkings na Oudtshoorn gebring.
Pastoor Roy Reddy, 'n bekende inwoner van Volmoed, buite Oudtshoorn, het die skenkings ontvang en die groep mense na die Kliplokasie geneem waar hulle self komberse aan die inwoners oorhandig het.
Volgens Reddy het hy by die Baptiste kerk as berader gaan help na die groot brand in Knysna ongeveer 'n maand gelede.
"Die gemeentelede het my so 'n rukkie terug gebel en gesê hulle wil graag 'n skenking aan Oudtshoorn maak, veral na die ruim bydrae aan Knysna-inwoners van Oudtshoorniete na die brand en ook om dankie te sê dat ek gehelp het. Die gemeentelede het met bakkies en sleepwaens vol komberse, klere en speelgoed vir die kinders gekom."
Reddy het die groep na die Kliplokasie geneem waar elk van hulle persoonlik twee splinternuwe komberse by elke huishouding afgelewer het. Die res van die skenkings het Reddy in Volmoed vir die mense wat op plase woon uitgedeel.
"Die skenkings word so baie waardeer. Die kinders kry koud in die winter en alles wat ontvang is, is goed wat broodnodig is," het hy gesê.
Die kinders van die Kliplokasie het ook na die tyd sop en lemoene gekry.
Voor die gaste vertrek het, het Reddy hulle met gekookte etes bederf.
'n Groep gemeentelede van die Baptiste kerk in Knysna het onlangs bakkievragte vol skenkings na Oudtshoorn gebring.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'