Dr. Boto Ganzevoort van My Fathers Home, 'n nie-winsgewende organisasie wat onder straatkinders en haweloses werk, vertel hoedat hulle met die skenking van een skeepshouer (container) begin het en so geseënd was dat hulle nou 'n kleuterskool vir meer as 70 kleuters met vier onderwyseresse op die been het.
"Die projek het begin toe ons vervoer gesoek het vir 'n skeepshouer wat agter die NG Moederkerk gestaan het en dit het uitgeloop op Superway Konstruksie van Mosselbaai wat hulle hele terreinkantoor, wat bestaan uit vyf houers en 'n groot dak, aan ons geskenk het."
Hy vertel hoedat dosyne mense en instansies hulle harte oopgemaak het om die hui-dige kleuterskool op die sportveld van Riemvasmaak op te rig. Die skool bestaan uit vyf skeepsvraghouers wat onder 'n reuse dak opgerig is, toiletgeriewe met wasbakke en spoeltoilette, 'n kombuis waar etes vir die kleuters voorberei word, veiligheidsheining en 'n binnehof van plaveiselstene.
"Ons het 'n hele paar terugslae beleef, soos toe ons na die Desembervakansie daar kom en sien al die ruite is stukkend gegooi en vensters is gesteel by een houer waar ingebreek is. Daar was nie finansies om aan te gaan nie en ons moes die projek vir 'n week staak" vertel Ganzevoort. "Skielik het finansiële hulp egter van oral begin inkom en die munisipaliteit het ook 'n septiese tenk ingerig vir spoeltoilette, iets wat in Riemvasmaak ongehoord is."
"As ons terugkyk is dit 'n wonderwerk wat God hier laat gebeur het. Sy hart lê by die kinders," getuig hy.
Die kleuterskool, wat Sonneblom gedoop is, het reeds binne die eerste week meer as 60 kleuters ingeneem en daar word beoog om die geboue ook te gebruik vir 'n nasorgsentrum vir ouer kinders. Daar is reeds 50 kinders ingeskryf vir die voorgenome nasorgsentrum. Die vier onderwyseresse bied op die oomblik hul dienste gratis aan aangesien die skool nie oor voldoende fondse beskik om hulle 'n salaris aan te bied nie.
Aangesien die Departement van Sosiale Ontwikkeling eers na afloop van die eerste jaar befondsing vir 'n kleuterskool oorweeg is die skool totaal afhanklik van skenkings en vrywillige hulp. Tafeltjies, stoeltjies, matrassies, komberse en groot potte word dringend benodig.
Behalwe vir hulle betrokkenheid by Sonneblom werk My Father's Home onverpoosd onder straatkinders en haweloses en verskaf hulle elke Donderdag etes aan ongeveer 50 mense agter die NG Moederkerk. Hulle is ook 'n integrale deel van die Oudtshoorn Straatkinderforum. Persone of instansies wat betrokke wil raak of skenkings aan sonneblom oorweeg kan dr. Boto Ganzevoort skakel by 044 272 6289 of 082 490 0525.

Die kleuters van Sonneblom Kleuterskool op Riemvasmaak saam met, van links, Dr. Boto Ganzevoort (My Father’s Home), Marilyn Blaauw en Juanita Thompson (Vrywillige onderwyseresse) en Judy Kellerman (My Father’s Home).
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR