PRINS ALBERT NUUS - Ware mode is goeie ontwerp, goeie materiaal, skeppendheid, en die manier waarop jy in jou vel en jou klere sit.
As jy jou klere met selfvertroue dra en dit jou persoonlikheid weerspieël, het jy styl.
So sê Jackie Burger, een van Suid-Afrika se voorste modekenners.
Sy was voorheen moderedakteur van die tydskrif Sarie en sewe jaar lank redakteur van Elle.
Burger het Saterdag ’n groep vroue van Prins Albert toegespreek oor haar ervarings tydens haar lang modeloopbaan.
Die geleentheid is gereël deur Christelle Smit van die Hoërskool Zwartberg.
Dis ’n harde, voorskriftelike wêreld, het sy gesê.
Maar ná baie dekades waarin sy blootgestel was aan van die grootste modename in Suid-Afrika en oorsee, het sy tot die gevolgtrekking gekom dat die belangrikste beginsel waarvolgens jy moet aantrek, dié is van “ek is”.
Sy glo nie aan tendense waarby individue teen wil en dank moet inpas om “in die mode” te wees nie, sê sy.
Volgens haar het mode te doen met sosiale omstandighede en is ’n weerspieëling van die tyd waarin ons leef.
"Styl is om skeppend te werk met dit wat jy het, en om jou intuïsie te gebruik.
"Styl het niks te doen met ‘ek wil trendy wees’ nie. Dan is jy ’n modeslaaf.
"Dis oukei om ’n modeslaaf te wees, maar die vraag is altyd: ‘Is dit jý?’.
Moet nooit geïntimideer voel deur modeneigings nie. Jy hoef nooit minder vrou te voel omdat jy nie die jongste modes in jou kas het nie.”
Burger het vertel van haar kinderjare in ’n plaasskool naby Robertson, waar die natuur haar van haar beste modelesse geleer het.
“Ons onderwyser het altyd in die veld met ons gaan stap. Dis hier waar ek my hele wese vir kreatiwiteit oopgemaak het.
"Daar, in die stilte, het ek ontdek wie ek is en wil wees. Ek het ’n sekere naïwiteit van my kinderjare oorgehou, en koppel dit aan my intuïsie.
"Tot vandag dink ek intuïsie is my grootste talent. Dit werk goed saam met my natuurlike liefde vir kleur, lap en tekstuur.”
Nadat sy die mededingende modewêreld verlaat het, het sy haar kas vol ontwerpersklere “skoongemaak”.
“Nou het ek baie minder klere, maar twee kaste – ’n kas vir basiese stukke, en ’n speelkas met ’n paar spesiale stukke.
"Ek het ontdek dat minimalisme bevrydend is, dat minder méér is.”
By die Jackie Burger-gesprek was van links: Helene Smit (bestuurskonsultant), Christelle Smit (wat die geleentheid gereël het), en die modekenners Jackie Burger en Gert van de Merwe.
ARTIKEL & FOTO: MARLENE MALAN
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'