OUDTSHOORN NUUS - “Die 12de Klein Karoo Klassique gaan weens die Covid-19-pandemie en die huidige beperkings wat as gevolg daarvan in plek is, nie vanjaar voort soos beplan nie.”
Só sê Hugo Theart, artistieke direkteur van dié fees, wat van Donderdag 6 tot Maandag 10 Augustus op Oudtshoorn sou plaasvind.
“Hierdie is ’n vreemde jaar en ter wille van die gesondheid en veiligheid van alle betrokkenes en Oudtshoorn se mense, kan Klein Karoo Klassique nie vanjaar plaasvind in die normale formaat nie. Dit is ’n teleurstelling, maar ons moet nou verantwoordelik optree en sorg vir die herstel van die wêreld”, sê Theart.
Volgens hom word virtuele klassieke musiekkonserte vir die res van 2020 beplan, aangesien Klassique nie vanjaar in die tradisionele formaat aangebied kan word nie. “Dit is nou ’n tyd om innoverend te dink en nuwe maniere te vind om uitvoerende kunste te laat leef. Ons is besig met verskeie projekte wat oor die volgende maand of twee die lig gaan sien. Dit is ’n uitdagende tyd vir almal, maar as ons saamstaan gaan ons deur hierdie moeilike tyd kom. Een van die dae hou ons weer fees, maar intussen hou ons die kole warm”, sluit hy af.
Meer inligting word binnekort op Klein Karoo Klassique se webblad en sosiale mediaplatforms bekend gemaak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'