KLEIN KAROO NUUS - Dit is weereens 'n besige bemarkingseisoen vir die personeel van Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor. Sedert Januarie het Corleen Barnard, toerismebestuurder van Oudtshoorn en De Rust, reeds Nederland, Duitsland en Indië besoek om die streek daar te gaan bemark.
Volgens Billy Engelbrecht, voorsitter van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekomitee, was die besoek aan Indië waarskynlik die mees uitdagende.
"Corleen het twee weke in Nederland en Duitsland en 'n week in Indië, saam met van ons lede wat Buffelsdrift en die Kango-grotte insluit, spandeer. Ek dink Indië was dalk die moeilikste van die lot, omdat ons verlede jaar 'n swakker jaar met die Indiese toeriste as in 2017 gehad het."
Volgens hom kan dit toegeskryf word aan die ernstige waterprobleem wat Kaapstad in 2018 getref het.
"Die Indiese toeriste besoek Suid-Afrika meestal in die winter en dit was ook die tyd wat die media wêreldwyd klem gelê het op die waterprobleem wat Kaapstad, en ook ander dele van die land getref het. Teen die tyd wat die Europese toeriste die land besoek het, was die probleem nie meer so erg nie."
Engelbrecht sê hulle hoop egter om vanjaar baie meer Indiese toeriste te hê omdat dié wat in 2018 nie kon of wou kom nie, vanjaar van die nuwe groep besoekers deel sal uitmaak.
Engelbrecht sê hy is geweldig bly dat Barnard vir die derde agtereenvolgende jaar Nederland en die vierde agtereenvolgende jaar Indië kon besoek.
"Dit is duidelik dat haar harde werk vrugte afwerp. Sy raak 'n bekende gesig aan die oorsese toeroperateurs en daar is geweldig baie belangstelling in ons streek as gevolg van die verhoudinge wat sy bou en die harde werk wat sy oorsee gaan doen."
Die einde van die bemarkingseisoen is egter nog nie in sig nie.
Barnard gaan einde Februarie nog aan die PretoriaFM Karavaan-, Kamp- & Bestemmingsskou, voorheen bekend as die Beeld Expo, deelneem en in April gaan sy ook die Adventure Lifestyle Show sowel as die WTM Africa in Kaapstad doen.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'