Gallery
OUDTSHOORN NUUS - "Dit was werklik wonderlik om weer, soos van ouds, Klein Karoo Klassique in Augustus aan te bied. Die fees is weer deur ons getroue en lojale gehoor ondersteun, en wat 'n lekkerte om almal weer te kon sien.
'"Daar was hierdie jaar ook merkbaar meer nuwe feesgangers, wat van heinde en ver, regoor die land gekom het," sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk."
FOTOGALERY: Klein Karoo Klassique
"Dit is belangrik om te noem dat die jaarlikse, ruimhartige ondersteuning van die Rupert-musiekstigting dit moontlik maak om dié fees in Oudtshoorn aan te bied en om elke jaar musikante van die hoogste kaliber te kan insluit," noem Theart. Hy vertel verder dat hierdie jaar se program weereens aan klassieke musiekliefhebbers die room van ons land se beste musikante en sangers gebied het.
Jong opkomende talent vorm deel van Klein Karoo Klassique
"Klassique het hierdie jaar gefokus om geleenthede te skep vir uitsonderlike jong opkomende talent, sê Theart, en noem dat dié jong musikante aan die Galakonsert, wat in samewerking met Kaapstad Opera en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) aangebied is, deelgeneem het.
"Hierdie jong musikante het 'n uitsonderlike Baroque to the Future-konsert, in samewerking met die Suid-Afrikaanse nasionale jeugorkes (SANYO) en die formidabele Erik Dippenaar, spesifiek met barokmusiek, opgevoer."
Boekgesprekke en kunsuitstalling vorm deel van Klein Karoo Klassique 2022
Die fees is bekend as 'n fees van klassieke musiek, maar daar is die jaar gedeeltelik uitgebrei met boekgesprekke saamgestel deur Elna van der Merwe, vryskutjoernalis, en 'n uitsonderlike kunsuitstalling, gekuratuur deur Liza Grobler, internasionale kunstenaar.
Die skrywers betrokke by die boekgesprekke het die plaaslike skrywer adv. Pieter van Wyk asook die Hertzorg-pryswenners, Ingrid Winterbach en Johan Myburgh, ingesluit.
"Dit is definitief 'n aspek wat ons in die toekoms wil uitbrei, want die Klassique-feesgangers is óók lesers en die gehore het aan die skrywers se lippe gehang," vertel Theart.
Grobler, wat onlangs Oudtshoorn toe getrek het, het ook hierdie jaar 'n kunsuitstalling met die tema, Music Sounds Better with You, saamgestel. Die uitstalling het uitstaande Suid-Afrikaanse kunstenaars, ook kunstenaars van die distrik, ingesluit. Theart vertel dat hierdie 'n welkome byvoeging tot die feeservaring was.
Tientalle skoolgangers woon Klein Karoo Klassique-opvoerings by
In samewerking met die Wes-Kaapse onderwysdepartment, het tientalle leerders van verskeie skole die geleentheid gehad om die fees te ervaar en opvoerings by te woon.
"Dit is ook vir ons as Kunste Onbeperk baie belangrik om te kyk na ons gehore van die toekoms en om aan jong leerders die geleentheid te bied om ook die fees te kan bywoon en klassieke musiek van dié hoë standaard te ervaar.
Al die leerders was opgewonde en ons sal in die toekoms nog nouer saamwerk om meer van dié tipe geleenthede te skep om musiekwaardering onder jong mense deur die fees en die Klassique te bevorder," vertel Theart.
"Dit is lekker om te kan sê dat Klassique terug is en dat die eerste volwaardige Klassiquefees sedert die pandemie ons getref het, 'n reusesukses was," vertel Theart dankbaar.
"Ons is reeds besig met die beplanning rondom die feesprogram en presiese datums in Augustus volgende jaar, dit sal binnekort bekendgemaak word."
Van links is Alida Stoman, Janelle Visagie en Monica Mhangwana in 'n uitvoering by die Klassique-galakonsert.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'