OUDTSHOORN NUUS - Die polisie se hulp is verlede Woensdag-aand ingeroep om 'n oproerige klant, wat geweier het om vir sy kos en drank te betaal, by 'n gewilde restaurant op Oudtshoorn te verwyder. Volgens die restauranteienaar het die man Woensdagaand by die restaurant opgedaag en 'n aantal jong mense het later by hom aangesluit.
"Hier teen tienuur se kant het die groep vreeslik luidrugtig geraak en krutaal begin gebruik. Dit was later so erg dat van my gereelde klante hulle rekeninge betaal en geloop het," het die eienaar gesê.
Volgens hom het hy die groep gevra om hulle drankies te betaal en die restaurant te verlaat, maar die man het toe glo gesê hy mag tot middernag bly omdat die klokreël dan eers in werking tree.
"Die man het toe gesê hy gaan ook nie sy rekening betaal nie en ek moet maar die polisie laat kom as ek hulle uit my plek wil kry," het die eienaar gesê. Hy het toe inderdaad die polisie gekontak en hulle het die man polisiestasie toe geneem. Volgens die restauranteienaar het die man se jonger vriende die perseel verlaat nadat die polisie opgedaag het.
Volgens sers. Gretchen Michaels, woordvoerder van Oudtshoorn-polisie, is die polisie ontbied omdat die man geweier het om sy rekening te betaal. Dit blyk dat die man op sy beurt 'n klag van aanranding teen die polisie ingedien het.
Volgens die restauranteienaar het die man verlede Donderdagoggend sy bankbesonderhede gevra en sou hy die uitstaande rekening van bykans R1 200 vereffen. Teen Dinsdagoggend was daar egter steeds geen inbetaling nie en die polisie is na die man se huis om bewys van betaling te eis voordat 'n klag van diefstal teen hom aanhangig gemaak word.
"Ek hoop regtig die man betaal sy rekening. Restaurante het reeds 'n geweldige verlies tydens inperking gely in die huidige situasie is R1 200 'n groot verlies vir enige besigheid," het die eienaar Dinsdagoggend gesê.
Volgens inligting wat Oudtshoorn Courant met betrekking tot 'n ander voorval gekry het, is die man in sy vroeë veertigs. Hy en sy seun is tans in 'n arbeidskwessie elders in die dorp met 'n werknemer gewikkel en hy sou verlede week 'n plakkaatbetoging voor die werknemer se onderneming hou.
Teen Dinsdagoggend kon die polisie nog nie bevestig of 'n klag van diefstal wel teen die man gelê is nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'