OUDTSHOORN NUUS - Twee produksies van vanjaar se KKNK het met drie pryse elk, die voortou geneem met vanjaar se KKNK Kanna-toekennings. Die twee produksies is die debuutproduksie Swerfgoed en Hierdie lewe wat 'n verwerking is van Karel Schoeman se gelyknamige roman.
Die Kanna-wenners in die 15 kategorieë, wat twee nuwe kategorieë vir tegniese uitnemendheid en beste teaterontwerp insluit, is Sondagaand 13 Mei by 'n spesiale geleentheid op Nasdak in Kaapstad bekend gemaak.
Bauke Snyman is bekroon met die Kanna vir die beste nuutgeskrewe teks vir Swerfgoed, wat verlede jaar die aandag getrek het by Kunste Onbeperk se Teksmark.
Nicole Holm en Richard September is onderskeidelik aangewys as die beste vroulike en beste manlike byspeler. Swerfgoed is 'n koproduksie tussen NATi, die Baxter-teatersentrum, die US Woordfees en die KKNK.
Hierdie lewe, 'n US Woordfees-produksie ter huldiging van Schoeman wat verlede jaar op 1 Mei oorlede is, het aan Wolf Britz die prys vir beste regie én beste teaterontwerp besorg, terwyl Antoinette Kellermann die Kanna vir beste aktrise gewen het/
Elke wenner het 'n Kanna-beeldjie deur Danélle Janse van Rensburg en 'n kontantprys ontvang. Totale prysgeld van R140 000 is uitgedeel.
Hier is die volledige Kanna-wennerslys:
Kanna vir die beste bydrae tot visuele kuns
- Johannes en Collen Maswanganyi (Dance and carve with my father)
Kanna vir die beste musiekproduksie
- Lepeltjie vol snare
Kanna vir die beste teateraanbieding
- Ons is almal freaks hier
Kanna vir die beste debuutwerk en Kanna vir die beste kinderteater-aanbieding
- (Babbelagtig)
Kanna vir die beste Uitkampteater-aanbieding
- (Doos/Box)
Kanna vir die beste opkomende kunstenaar
- Du Toit Albertze (Die Meermin-kompleks)
Kanna vir die beste nuutgeskrewe teks
- (Swerfgoed)
Kanna vir die beste byspeler: manlik
- Richard September (Swerfgoed)
Kanna vir die beste byspeler: vroulik
- Nicole Holm (Swerfgoed)
Kanna vir die beste akteur
- Mbulelo Grootboom (Gif/Poison/Ithyefu)
Kanna vir die beste aktrise
- Antoinette Kellermann (Hierdie Lewe)
Kanna vir die beste regie en die Kanna vir die beste teaterontwerp.
- Wolf Britz (Hierdie Lewe)
Kanna vir tegniese uitnemendheid
- Pieter-Jan Kapp
Spesiale prys vir beste produksiebemarking
- Moord in Ixiastraat – 'n Bal-oog-en-Brommel-avontuur
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'