OUDTSHOORN NUUS - Die KKNK het Woensdagaand met die opening van die Absa-uitstalling by die Prince Vintcent-gebou begin.
Soos vorige jare is daar 'n groot verskeidenheid kunswerke asook werke van die feeskunstenaars van die afgelope 24 jaar se feeste. Tydens die opening het dr. David Piedt, een van die KKNK se stigterlede, gesê die fees het vir hom bewys dat mens die verlede kan begrawe en saam na 'n gesamentlike toekoms kan beweeg.
"Ek is trots Afrikaans, dit is my taal en die taal van die moeder van feeste van die land."
Woensdagaand se opening is Donderdagoggend opgevolg met die onthulling van vyf nuwe permanente kunswerke as deel van Absa en die KKNK se Maakit Mooi-projek. Volgens dr. Paul Bayliss, kunskurator van Absa, is die Maakit Mooi-projek 'n wyse waarop Oudtshoorn toenemend in 'n kunsdorp omskep word. Vyf kunswerke is verlede jaar in die omgewing van die munisipaliteit opgerig. Vanjaar is drie naby die munisipaliteit opgerig terwyl die ander twee in Toekomsrus en Bongolethu opgerig word.
Colan Sylvester, uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, het Donderdagoggend gesê inisiatiewe om Oudtshoorn in 'n kuns- en kultuurdorp te omskep het die volle samewerking van die munisipaliteit. Hy het daarop gewys dat jeugontwikkeling baie belangrik is en dat die KKNK 'n reusebydrae maak om dit te bevorder.
Anton Roetz en Madeleine Miles op een van die fietsrakke voor die biblioteek wat deel is van die Maakit Mooi-projek. Die fietsrakke, in die vorm van volstruispote, en 'n sitplek voor die bur-gersentrum is twee kunswerke wat deur Roetz gemaak is.
Een van die kunswerke wat gister onthul is, is twee sementsitplekke met 'n kaart van die Maakit Mooi-kunsroete wat teen die agterkant aangebring is.
Volgens Paul Bayliss sal die tien huidige kunswerke wat op die kaart aangedui word in die volgende aantal jare aansienlik uitgebrei word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'