OUDTSHOORN NUUS - As Covid-19 alles in 2021 nie weer omver gooi nie sal Oudtshoorn weer die KKNK kan aanbied.
Dit was een van die positiewe boodskappe wat Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk verlede Vrydagoggend tydens Kunste Onbeperk se AJV met die ongeveer 25 gaste by die Queen's Hotel gedeel het.
Die datums vir volgende jaar se KKNK is vanaf 31 Maart tot 6 April en volgens Theart sal inwoners later genooi word om voorstelle oor die fees te deel. "Ons wil na alternatiewe maniere en plekke kyk om die fees aan te bied," het hy gesê.
Die AJV het begin met 'n huldeblyk aan dr. David Piedt wat deur dr. Franklin Sonn gelewer is.
"As daar een ding is wat die stadsvaders van Oudtshoorn kan doen om die nalatenskap van die ontslape dr. Piedt te laat voortleef is dit om een straatjie in die dorp na hom te vernoem," het Sonn, boesemvriend van Piedt en een van die beskermhere van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), Vrydag gesê.
Hy het Piedt geloof vir sy bydrae as een van die grootste ondersteuners van die KKNK en kampvegter vir gelykheid en nasiebou.
"Ek sal sy woorde dat ons ons land moet regkry nooit vergeet nie," het Sonn gesê.
Die voorsitter van Kunste Onbeperk, Crispin Sonn, het in sy jaarverslag gesê: "Om te sê dat 2020 'n uitsonderlike jaar was, sal nie oordrewe wees nie. In alle opsigte van ons samelewing en ekonomie was dit 'n buitengewone en uitsonderlike jaar en is die KKNK en Kunste Onbeperk nie die effek van gebeure gespaar nie."
Volgens Sonn was die ekonomiese impak baie groot. Kunstenaars, tegnici, gastehuiseienaars en -werkers, restaurante en diensverskaffers is almal negatief deur die kansellering van vanjaar se fees beïnvloed.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor die honderde kaartjiekopers wat besluit het om hul kaartjiegeld aan die KKNK te skenk en kon verpligtinge aan die bedryf nagekom word.
"Dit is ook met baie dankbaarheid dat ek kan aankondig dat ons druk besig is om vorm te gee aan die 2021-feesprogram."
Volgens Theart het die afgelope finansiële jaar 'n onverwagte draai gemaak. "Die wêreldwye Covid-19-pandemie het ons onkant betrap met ingrypende gevolge.
"Dit sou na alle verwagting 'n goeie feesjaar wees. Maar 'n ander rigting moes egter vinnig ingeslaan word en in plaas van feeshou, moes die direksie, bestuur en kantoorpersoneel met die gevolge van 'n fees wat nie kon plaasvind nie, worstel. Ons eerste prioriteit was om die kunstegemeenskap by te staan en beskikbare fondse te bestuur ten gunste van die bedryf in hierdie krisistyd."
Volgens hom was dit alleenlik danksy die ondersteuning van verskeie borge, vennote en individue dat die uitdagings van die laaste aantal maande van die finansiële jaar trotseer en oorleef kon word. Hy het Oudtshoorn en sy mense vir hul volgehoue ondersteuning van die fees bedank.
"Die dorp is nou deur 'n moeilike tyd, maar die uitdagings is nog nie verby nie," het Theart gewaarsku. Crispin Sonn is tydens die vergadering vir 'n tweede 3-jaar-termyn as direksievoorsitter verkies. Die ander direksielede is Johannes van Niekerk, Chris Macpherson (uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn), Denver Moses, Hugo Theart, Olga Wyngaard en Ismail Mahomed.
Die direksie van Kunste Onbeperk is voor, van links: Denver Moses, Hugo Theart, Crispin Sonn (voorsitter), Olga Wyngaard en Ismail Mahomed. Agter van links: Johannes van Niekerk en Chris Macpherson (uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn). Foto: Hans van der Veen
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'