OUDTSHOORN NUUS - Met die Klein-Karoo-bekendstelling van die KKNK se 2020 feesprogram verlede Vrydag was dit duidelik dat vanjaar se kunstefees weereens 'n hele aantal hoogtepunte gaan bied.
Die bekendstelling het op 'n perfekte Klein-Karoo-aand by Surval-olyflandgoed plaasgevind met verskeie belangrike rolspelers in die Oudtshoorn-gemeenskap asook borge van die KKNK.
Norman Venketiah, die streekhoof van dekking by Absa, die hoofborg van die fees, het gesê in die 26 jaar dat die KKNK plaasvind, is Absa al vir 15 jaar 'n borg.
Hy het in sy toespraak dit duidelik gemaak dat dit vir Absa oor meer gaan as net een week van kuns en kultuur.
"Deur ons volgehoue vennootskap met die KKNK, wil Absa getrou bly aan ons oorkoepelende strategiese fokus, wat insluit die rol wat Absa speel in die samelewing, die ontwikkeling van vaardighede, omgewingsvolhoubaarheid, en die ekonomie as 'n geheel."
Die Absa Rooiplein het deur die jare 'n bymekaarkomplek vir baie feesgangers geword, en skuif vanjaar na die hart van die fees op die hoek van Langenhoven- en Voortrekkerweg, reg voor die Absa-burgersentrum.
Anna-Mart van der Merwe, wat vanjaar vereer word met die Kunste Onbeperk-prys vir vertolking, het die geleentheid op Oudtshoorn bygewoon nadat sy nie self by die KKNK-bekendstelling op 16 Januarie in Kaapstad kon wees nie. Sy het haar dankbaarheid aan die kunstegemeenskap uitgespreek, en ook gesê sy is oorweldig deur die hoeveelheid werk wat dit verg om 'n kunstefees te laat gebeur.
Dr. David Piedt, nog 'n vereerde by vanjaar se fees vir sy bydrae tot die KKNK en voormalige voorsitter van die KKNK-raad, het 'n treffende toespraak gelewer waarin hy sy dankbaarheid vir die KKNK uitgespreek het. "Die fees het my basis verbreed, nuwe insigte gegee en na die horison laat kyk, sodat ek myself kan vind." Hy het ook gesê as hy nie by die fees betrokke geraak het nie, weet hy nie of hy die persoon sou gewees het wat hy vandag is nie.
Hugo Theart, die artistieke direkteur van die KKNK, het die program bekend gestel en hoogtepunte uitgelig, onder meer twee eksklusiewe vertonings by die Kango-grotte. Die details van die uitvoerings sal nog bekend gemaak word.
'n Deel van die geld wat vir dié konsert gegenereer word, sal aan die bewaring van die grotte gaan.
"Die 26ste KKNK is die eerste in 'n nuwe fase van die fees, in 'n nuwe dekade. Die KKNK is en bly 'n belangrike rolspeler om deur die kunste 'n positiewe bydrae tot Suid-Afrika en sy mense te lewer. Ons uitnodiging is eenvoudig: Kom fees rojaal! Die feesprogram is saamgestel om aan ieder en elk iets besonders te bied en om kuns en vermaak aan te bied wat jou sak sal pas," het Theart gesê.
Hy het gesê dit is onmoontlike om slegs enkele hoogtepunte uit te sonder, maar het gesê Baron van Reedestraat bied weer gratis straatvermaak, musiek en onderhoude by die RSG-verhoog, gratis gespreksreekse soos Die Burger se jaarlikse Praat Saam Diskoersreeks en die ATKV Boekgesprekke in die Netwerk24-Feeskafee en ook verskeie teatergesprekke.
'n Splinternuwe deel van die gratis vermaak is die Santie de Jager-digtersden met verskeie poësie en literêre aanbiedinge wat deur Hannes Visser en Poem Mooney saamgestel word. Die klem val op plaaslike digters en liriekskrywers wat deur die loop van vyf dae oor hulle werk gaan gesels en daaruit voorlees. Een van die tydgleuwe sal ook aan publikasie-moontlikhede gewy word.
Die Kuierbuurt sal weereens volop vermaak bied aan die hele gesin en daar is ses uitsonderlike opelugkonserte. Verskeie hoogtepunte van ander feeste sal ook te siene wees. Die musiekprogram sluit van die land se gunsteling sangers en musikante in, en bied musiek in verskeie genres.
Onthou kaartjies is goedkoper as dit vroegtydig bespreek word, so bespreek nou by Computicket.
Besoek www.kknk.co.za vir programinligting.
Die KKNK vind vanjaar van 23 tot 29 Maart plaas. Vir verblyf stuur 'n e-pos na verblyf@kunste.org.za.
Talle gaste het Vrydagaand se bekendstelling bygewoon. Foto's: Hans van der Veen
Dr. David Piedt is vereer.
ODN-burgemeester, Colan Sylvester.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'