'n Groep volwassenes en sowat 170 kinders het Dinsdagoggend by Vlakteplaas, sowat 16 km buite De Rust bymekaargekom.
"Al is julle nog baie klein is julle tog groot genoeg om te weet wanneer iets verkeerd is, die regte besluite te neem en julle kan 'n reuse verskil maak om dit te rapporteer," het ao. Elsjé Pienaar van die SAPD op De Rust vir die kinders gesê.
Twee SAPD lede, ao. Dirk Greeff met sy hond Max en ao. Maryna Schoeman met Roxy het die kinders gewys hoedat die twee herdershonde dagga, dwelms en ander verbode middels op die terrein en in 'n SAPD voertuig kan uitsnuffel. Greeff en sy hond, Max is hoogs gespesialiseerd in die opsporing van biologiese liggaamsvloeistowwe en is slegs een van 30 eenhede in die land en een van vyf eenhede in die Wes-Kaap.
Tien ander spesifieke soorte honde-eenhede bestaan, insluitende gewone patrolliehonde, opspoorhonde, beskermde spesies opspoorhonde, soek en reddingshonde, dwelmhonde, skaaphonde, geldopspoorhonde asook karkas en velhonde. Inligtingsbrosjures rakende die verskillende soorte honde-eenhede is onder die kinders versprei.
Daarna was Rolando Jordaan van Oudtshoorn-verkeersafdeling aan die woord en hy het die kinders meer vertel van padveiligheid met betrekking tot voetgangers en verkeer. Die groot trekpleister was die alombekende Daantjie Kat, wat al dansende tussen die kinders rondbeweeg het. Die kinders kon hulle oë nie van hom afhou nie en wou die hele tyd aan hom vat.
Toe Ashton Khumalo van die brandweer 'n spreekbeurt kry het Daantjie Kat nog steeds tussen hulle rondbeweeg.
Vier kinders wat reeds op hulle jong ouderdom brandwonde opgedoen het, het saam met Daantjie Kat 'n rit in die brandweerwa gekry en ao. Elsjé Pienaar het aan die einde van die program lekkers uitgedeel.

Daantjie Kat het vier kinders wat al op vroeë ouderdom die pyn van brandwonde beleef het, genooi om saam met hom in die brandweerwa te ry.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'