OUDTSHOORN NUUS - Vulgêre WhatsApp-boodskappe, in die gemeenskap bekend as Jintoe-lyste, het skoolhoofde in die Oudtshoorn-omgewing genoop om in te gryp.
Die Oudtshoorn Courant het lyste bekom wat leerders van Hoërskool Oudtshoorn, Hoërskool Môrester, Bridgton Sekondêr en Dysselsdorp Sekondêr onder mekaar versprei.
In hierdie boodskappe word kinders spesifiek by die naam genoem en in afbrekende en kru taal uitmekaargetrek; soveel so dat sommige van die slagoffers glo berading moet ontvang.
Wat die leerders sê
Volgens 'n gr. 10-leerder van Hoërskool Oudtshoorn word die lyste deur leerders van die onderskeie skole bymekaar gesit en dan onder mekaar versprei.
Soos die lys versprei, voeg kinders name op die lys by. Volgens die leerder is daar al ongeveer sewe van hierdie lyste in omloop.
Die oorsprong kon nog nie bepaal word nie.
'n Leerder van Bridgton Sekondêr het gesê sy is ontsteld oor die lys wat tans die rondte doen.
"Van my maats word op daardie lyste genoem. Sommige van hulle sê dit pla hulle nie, maar ek kan sien dit pla hulle.
"Ek dink nie die kinders wat die lyste opstel besef die implikasie van dit nie. Dit is 'n vorm van boelie en die gevolge kan baie ernstig wees."
Die leerders se name is weerhou om hul identiteit te beskerm.
Wat die skoolhoofde sê
Die Oudtshoorn Courant het al vier skoolhoofde vir kommentaar genader.
Mercia Moses, hoof van Dysselsdorp Sekondêr, het gesê sy het nog geen klagtes vanaf leerders of ouers oor die lys ontvang nie.
Coenie de Vos, hoof van Hoërskool Oudtshoorn, het gesê hy beskou dié optrede van enkele leerders in 'n baie ernstige lig.
"Die boodskappe is walglik. Ek het ouers by my gehad oor die lys en die skool gaan op te tree. Ons beplan ook om die polisie se hulp in te roep.
"Ons het reeds met leerders gepraat en gesê hulle moenie die lys versprei nie."
Kelvin Ellis, Bridgton Sekondêr se hoof, is ewe ontsteld.
"Ek het reeds met ouers oor die lys gepraat. Ons beoog om met die kinders te praat oor kuberboelies en vir hulle die regsimplikasies te verduidelik. Ons gaan ook die WKOD se Safe Schools-projek hierby betrek."
Die skoolhoof van Môrester, Meneer Sabat het gesê hy het geen kommentaar om te lewer nie.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement se standpunt
Volgens Millicent Merton, woordvoerder van die WKOD, was soortgelyke lyste verlede jaar in die Boland en Mitchell's Plain aangemeld.
"Ouers word aangeraai om dit by die polisie aan te meld. Leerders kan ook die WKOD se Veilige Skole-inbelsentrum kontak 'n tolvrynommer by 0800 45 46 47."
Polisieoptrede
Kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê dat daar teen Donderdagoggend nog geen klagtes by die polisie aangemeld is nie.
"Die polisie is bewus van die lys. Ons wil kinders aanmoedig om nie die lys aan te stuur nie.
"Die polisie gaan ook met die skole en die onderwysdepartement saamwerk om hulle in te lig oor kuberboelies."
Berading
Salomé Plaatjies, berader van Plumbline Restorations en 'n ouer van 'n gr. 10-leerder, sê daar was al 'n hele aantal leerders by haar wat op die lys genoem word.
"Die kinders is stukkend. Hulle probeer hard om dit weg te steek, maar dan word die kinders fisies siek en kry maagpyn en hoofpyn.
"Ouers moet hul kinders se gedrag dophou en kyk of hulle enigsins anders as normaal optree."
Plaatjies sê sy moedig die ouers aan die situasie so rustig moontlik met die kind op te neem.
"Sou dit gebeur dat dit jou kind is wat op die lys is, is kwaad raak nie die opsie nie. Gee die kind die voordeel van die twyfel en praat rustig met hom of haar. Om te raas met die kind gaan dit vir hom of haar moeilik maak om oop te maak oor die situasie."
Skermgrepe van die lyste wat die rondte by skole doen.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'