Die koor, onder leiding van Jan-Erik Swart is pas terug van hul suksesvolle Europese toer, maar was sommer weer slaggereed met 'n volledige konsert wat vir die opname gereël is.
Dit was ‘n besige dag vir die kinders met 'n werkswinkel die oggend waartydens opnames gemaak is. Gedurende die middag het hulle ‘n volle konsert saam met die gewilde sanger Michael Lindt aangebied, waartydens die opnames voortgesit is. Die Kwêla-span was in die omgewing vir opnames en die koor se projekorganiseerder, Marilize Larmour, het dadelik die geleentheid aangegryp om die konsert te reël en die Suid-Kaap se goue stemme op nasionale TV te kry.
Die kinders en van hul ouers het uiteraard saamgedrom toe dit tyd was om die drie olifante van Buffelsdrift kos te gee. Intussen het die Kwêla-span voortgegaan met onderhoude met individue wat by die koor betrokke is.
Volgens Jan-Erik Swart was dit ‘n wonderlike geleentheid om die eenheid te herstel tussen die koorlede wat Europa toe was en die lede wat nie die toer kon meemaak nie. Die hoogs vermaaklike choreografie wat tydens die toer ontwikkel is om Europese gehore te vermaak, kon oorgedra word aan die res van die koorlede sodat hulle weer as ‘n eenheid optree.
Die CD-bestellings vir die SKKK se dubbel-CD, SKKK 2009-2010 stroom steeds in uit die buiteland en ‘n herdruk van die CD is reeds bestel.
Die koor neem hierdie week hul volgende CD op met o.a. die liedere waaroor die Europeërs so gaande was.
Volgens Pieter Pepler, die koor se voorsitter, was daar ‘n reeks uitdagings wat Saterdag op behendige wyse deur die bestuurspan oorkom is. Klank, beligting en voldoende spasie vir die konsertgangers was van die ernstige uitdagings wat blitsvinnig agter die skerms aangespreek moes word om van die opnames en die konsert ‘n sukses te maak.
Die verwagting om ‘n optrede van TV-gehalte te lewer het die kinders ook verder gereed gekry vir die koor se volgende CD-opname op 28 en 29 Oktober, asook Jan-Erik se meesterskonsert wat op Saterdag, 29 Oktober in die NG Kerk Denneoord aangebied word. Jan-Erik is tans besig met ‘n meestersgraad in musiek aan die NMMU. Navrae oor die meesterskonsert en kaartjies kan gerig word aan Marilize Larmour by 082 599 9291.
Saterdag se opnames sal na verwagting op 2 November - volgende Woensdagaand - uitgesaai word op kykNET, kanaal 111, om 19:30. Hou George Herald se webblad dop vir enige veranderings in dié verband.
Selfs Buffelsdrift se olifante lyk beïndruk met die ‘groen span’.