OUDTSHOORN NUUS - Die Bridgton-kliniek het op Maandag 13 Mei, in samewerking met verskillende rolspelers, ‘n suksesvolle kinderbeskermingsdag by die Dorkas Kleuterskool in Bridgton aangebied.
Volgens Nadia Ferreira van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid was die doel van die dag grootliks om bewustheid te skep oor die beskerming, veiligheid, gesondheid en welstand van kinders.
Rolspelers wat die dag teenwoordig was, was die Departement van Maatskaplike Dienste, die Oudtshoorn-hospitaal, Famsa, die SAPD, Bridgton WOW-klub, Kindersorg, GCIS en Dorkas.
Volgens Ferreira toon statistieke dat ‘n groot aantal jong kinders tekens toon van wanvoeding, terwyl baie kinders onder fisiese, seksuele en emosionele mishandeling gebuk gaan.
Groot klem is tydens die geleentheid geplaas om te verseker dat elke kind sy of haar volle potensiaal bereik volgens die Eerste duisend dae Inisiatief (FTD).
Die bestuurder van die Bridgton-kliniek, sr. Carina Engelbrecht, het in haar toespraak kommer uitgespreek oor die toename in tienerswangerskappe op Oudtshoorn.
Volgens haar het daar by die Bridgton-kliniek tussen Januarie en Maart vanjaar altesaam 78 jongmeisies tussen 15 en 19 jaar oud positief getoets en gesê dat ongereelde skoolbywoning dalk ‘n groot bydrae gelewer het. Sy het voorts die departement se rol om kindersterftes te beperk, beklemtoon.
Die Bridgton-sektorbestuurder van die Oudtshoorn-polisie, kapt. Johanna Nortje, het haar kommer uitgespreek oor die toename aan geweldsmisdaad waarby kinders betrokke is. Voorts is boelie en dwelmgebruik deur leerders die ander groot kopsere vir die polisie.
Volgens haar is ‘n 12-jarige meisie onlangs by ‘n laerskool positief getoets vir tik en dwelms terwyl ‘n 16-jarige vasgetrek wat ‘n skoolsaal aan die brand wou steek. Oproerigheid van leerders word ook toegeskryf aan dwelmgebruik. “Kinders gaan met messe en ander gevaarlike wapens skooltoe.”
Volgens Nortje is dit kommerwekkend hoeveel jeugdiges elke dag vanaf die Mosselbaai gevangenis na die hof op Oudtshoorn gebring moet word, talle van Oudtshoorn.
Volgens haar dink kinders dat hulle deur die Kinderwet beskerm word maar vergeet dat hulle ook tronkstraf opgelê kan word.
Nog ‘n bron van kommer is die groot aantal kinders wat tydens skoolure in die strate van Bridgton speel.
“Die polisie het regtig die hulp van elke gemeenskapslid nodig. Ons kinders is nie veilig nie,” het Nortje afgesluit.
Eshida May van die Departement Gesondheid het al die rolspelers vir hul bydrae bedank en ook aangekondig dat ‘n huis-tot-huis besoek in die gebied bekend as die “Lane” op 30 Junie afskop.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'