OUDTSHOORN NUUS - 'n Groot eer het 'n 16-jarige leerder van Langenhoven Gimnasium, Kian Snyman, te beurt geval na hy onlangs 'n rol in 'n kykNet-kortfilm losgeslaan het.
Volgens Snyman het hy nooit gedink dat hy die dramawêreld gaan betree nie, want sy eintlike passie is om te sing.
"Ek het tydens die inperking begin sing en aanlyn sanglesse by bekendes soos Lee Scott, Charlize Berg, Monique Steyn, Germandt Geldenhuys en Reyndard Hugo gehad. Hulle het vir my van die oudisies vir die kortfilm gesê en ek het toe ingeskryf."
Volgens hom was daar 400 deelnemers en is oudisies in Namibië, Kaapstad en Pretoria gehou.
"Hulle het net 10 gekies om die kortfilm te doen. Tydens die oudisie moes ek sing en 'n monoloog opvoer."
Snyman sê hy gaan vir vier maande gevorderde dramaklasse doen en ook vier werksessies in Kaapstad bywoon.
"Ek het nie gedink ek sal dit sover maak nie. As dit nie was vir my ouers, en ouma en oupa se opofferings en ondersteuning nie, sou ek seker nie sover gekom het nie. Ek is baie dankbaar vir hulle in my lewe. Ek wil almal bedank wat tot dusvêr 'n bydrae tot my suksesse gehad het."
Snyman sê hy oorweeg dit om landbouwetenskap te gaan studeer as die akteurswêreld nie vir hom uitwerk nie.
"Dit is iets wat ek nog altyd wou doen, maar ek gaan dit dag vir dag vat en kyk hoe my paadjie loop."
LEES MEER: Kian kry rol in kortflim
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'